MACASSAR – Nooddienspersoneel is getraumatiseer nadat ‘n klip deur die voorruit van ‘n ambulans op die N2 in Macassar gegooi is.
Volgens ‘n polisieverslag het die voorval Sondagoggend 15 Maart omstreeks 00:30 plaasgevind toe ‘n Wes-Kaapse EMS-ambulans wat ‘n pasiënt na die hospitaal vervoer het net ná ‘n vulstasie op die N2 in die rigting van Kaapstad bestook is.
Die klip het op die enjinkap beland en deur die voorruit gegaan, maar geen beserings is aangemeld nie.
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand het bevestig dat die pasiënt en personeel veilig is, maar die nooddienspersoneel is getraumatiseer deur die voorval en het hospitaalassessering vereis. Hulle is intussen ontslaan.
“Die departement veroordeel ten sterkste die aanval op ‘n EMS-ambulans op die N2,” het die departement gesê. Die departement het bygevoeg dat omvattende geestesgesondheids- en traumaondersteuning vir EMS-personeel aangebied is.
Mireille Wenger, Wes-Kaapse minister van gesondheid en welstand, het ook die belangrikheid van die beskerming van gesondheidswerkers en nooddienste beklemtoon: “Aanvalle op gesondheidswerkers en noodvoertuie is heeltemal onaanvaarbaar en plaas lewens in gevaar.”
Die departement het ‘n beroep gedoen op gemeenskappe om te help om die veiligheid van nooddienspersoneel te verseker.
“Gesondheidswerkers is hier om vir almal te sorg. Ons almal het ‘n rol om te speel om hulle en ons pasiënte veilig te hou sodat hulle kan voortgaan om lewens te red,” het die departement verduidelik.
Die Macassar-polisie ondersoek ‘n saak van kwaadwillige saakbeskadiging ná die ambulansaanval.




