Die Strand-gemeenskaps- polisiëringsforum (GPF) het verlede Donderdag (26 Februarie) sy eerste vergadering van die jaar gehou waar die sukses en uitdagings in die afgelope drie maande se misdaadbekamping hersien is.
Die vergadering by Rusthof Primêre Skool het verskeie misdaadbekampingsentiteite byeengebring om die feestyd se misdaadbestrydingsveldtogte te evalueer.
Lillian Albertyn, die waarnemende GPF-voorsitter, het die byeenkoms met terugvoering oor die ontmoeting met die nuwe polisieleierskap geopen. Sy het ook insig verskaf oor strandpatrollies in die feestyd, voordat die forum sy oorwinnings by die provinsiale GPF-toekennings gevier het.
Kol. Jacqui Johnson, die nuwe stasiebevelvoerder van die Strand-polisie het haarself voorgestel. Sy het ook lt.-kol. Noxolo Rulwa, die nuut-aangestelde bevelvoerder vir sigbare polisiëring, bekendgestel.
Kapt. Vanessa Daniels het die jongste misdaadstatistieke voorgelê. Terwyl daar sake is om positief oor te wees, soos die afname in bedrogsake, bly daar steeds gebiede van kommer, soos onwettige vuurwapens, drank en dwelms. Voortbouend hierop het kapt. Lionel Farmer suksesvolle ondersoeke uitgelig wat met vonnisopleggings goeie resultate gehad het – vonnise van 15- en 12-jaar-tronkstraf. Daar was vrae waarom slegs laer-vlak-misdadigers gevonnis word. Johnson het verwys na ‘n 20-jaar-vonnis van ‘n bekende bendelid.
Vanuit gemeenskapsperspektief het Lisa Visser probleme soos drankgebruik in die openbaar uitgelig.
Die vergadering het afgesluit met voorbereidings vir die GPF se maandelikse staptogte teen geslagsgeweld.




