Die Super Friday-patrollie was weer in aksie toe die Khayelitsha-subdistrik se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) verlede Vrydag (27 Februarie) sy tweede gekombineerde patrollie van die jaar van stapel gestuur het.
Die gesamentlike operasie het hierdie keer drie gebiede – Macassar, Strand en Gordonsbaai – gepatrolleer, met die subdistrik se polisiekommissaris, brig. Mnoneleli Magobiyane en GPF-voorsitter, Marlon Solomons, wat die inisiatief bygewoon het.
Kragte van die drie gebiede se GPF, Macassar- en Strand-polisie, verskeie buurtwagte en private sekuriteitsmaatskappye het saamgewerk om die operasie ‘n sukses te maak.
Die uitgebreide samewerking het weer eens bewys dat Helderberg-misdaadbestrydingsentiteite ‘n indrukwekkende mag vorm wanneer hulle kragte saamsnoer.





