Die familie van Edwina Sinkfontein betreur die verlies van haar unieke sin vir humor nadat sy op Sondag 18 Januarie haar lewe tragies verloor het.
“Sy het altyd ‘n grap gehad om te vertel en daar was nooit ‘n vervelige oomblik met haar nie, al het sy ‘n grappie gemaak oor iets wat nie veronderstel was om snaaks te wees nie,” sê Sinkfontein se niggie, Abigail.
Sinkfontein het Sondagaand in ‘n padongeluk omgekom.
Luidens ‘n polisieverslag het die ongeluk om 21:57 op die N2 naby ‘n vulstasie in Macassar in die rigting van Somerset-Wes gebeur.
“ ’n 43-jarige vrou is om 21:57 deur ‘n voertuig getref terwyl sy die nasionale pad oorgesteek het,” het Konstabel Ndakhe Gwala, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.
Sinkfontein is deur nooddienste op die toneel dood verklaar en die Macassar-polisie ondersoek tans ‘n saak van strafbare manslag.
Die tragiese verlies het ‘n gesin, wat Sinkfontein as die hart van alles beskou het, verpletter. Volgens die familie het sy saam met haar vriend en ander vriende by haar huis in Suikerbossiestraat gekuier, waar haar voordeur direk op die N2 in Macassar Heights uitkyk. Hulle wou geld gaan trek, maar die OTM by die vulstasie oorkant haar woning was buite werking.
Sy het toe haar vriende vertel dat sy oor die N2 sou loop om geld by die OTM by die vulstasie aan die ander kant van die nasionale pad te kry. Dit is waar die ongeluk gebeur het.
“Toe ek van die ongeluk hoor, het ek na die N2 gehardloop om te kyk of dit my ma is,” sê haar seun Keanu (19) oor wat gebeur het nadat ‘n buurvrou hom daaroor ingelig het. Hy het Leticia Poggenpoel, Sinkfontein se ander niggie, gebel om haar te vertel wat gebeur het en sy het haar na die toneel gehaas.
“Daar het so baie mense gestaan, maar die owerhede wou nie hê ons as familie moet haar sien nie,” sê Poggenpoel.
Die voorval het die familie in skok gelaat. “Vir my voel dit onwerklik,” het Keanu gesê.
Sinkfontein was ‘n ma van drie seuns van onderskeidelik 9, 19 en 24 jaar oud en het alles vir haar gesin opgeoffer. “My ma het alles vir ons gedoen en as daar niks in die huis was nie, het sy altyd ‘n plan gemaak,” sê Keanu.

Haar niggies sê sy het familie altyd eerste gestel en vir mense omgegee. As ‘n versorger by ‘n private kliniek was haar werk ‘n verlengstuk van haar persoonlikheid om vir mense om te gee.
Een van haar drome was om ‘n sjef te word, maar haar grootste droom was om haar kinders ‘n huis te gee. Dit het minder as ‘n jaar gelede werklikheid geword toe sy by haar woning in Suikerbossiestraat ingetrek het. “Sy wou net hê haar seuns moet ‘n plekkie hê wat hulle hul eie kon noem,” sê Poggenpoel.
Ná haar dood kon die familie sien watter soort mens Sinkfontein was deur die oorweldigende reaksie van die gemeenskap. Mense het hul simpatie op sosiale media gedeel en die familie is dankbaar vir al die ondersteuning wat hulle ontvang.
Die familie is egter ontevrede oor sekere dinge, want volgens hulle word gerugte oor haar dood in die gemeenskap versprei.
“Die seuns is reeds getraumatiseer en nou is dit sekondêre trauma van mense wat skinder,” sê Poggenpoel.
Die familie beplan nou om Sinkfontein te begrawe.
‘n Gedenkdiens word vanaand (Woensdag 28 Januarie) om 19:00 by haar woning in Suikerbossiestraat 57 in Macassar Heights gehou.
Sinkfontein word Saterdag (30 Januarie) ter ruste gelê. Die begrafnisdiens is om 09:00 by die Pinkster Protestantse Kerk.







You must be logged in to post a comment.