‘n Voertuig het Sondag 4 Januarie in Strand in vlamme uitgebars.
Volgens Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se Brand- en Reddingsdienste, het hulle om 18:00 ‘n oproep ontvang van ‘n voertuig wat op die hoek van Da Gama- en Nieuwenhuysstraat in Strand aan die brand is en op dit gereageer.
“Blykbaar het die eienaar rook uit die motorhuis sien kom en die voertuig in die pad gestoot,” sê Carelse.

Strand-buurtwaglede Gerhard Botha en Peter Rau, wat op die toneel was, verduidelik dat hulle om 17:48 ‘n noodoproep op ‘n WhatsApp-groep in Nieuwenhuysstraat ontvang het waar die hulpoproep oor die motor gekommunikeer is.
Hulle het bygevoeg dat inwoners van Nieuwenhuysstraat onmiddellik reageer het met huishiudelike brandblussers, maar kon nie die brand blus nie.
Sir Lowry’s Pass-brandweerspanne het die brand om 18:15 geblus en geen beserings is aangemeld nie. Die oorsaak van die brand is nog onbekend.
In ‘n afsonderlike voorval op Oujaarsdag (Woensdag 31 Desember), is brandweerspanne ontbied na ‘n huisbrand wat in die Dennegeur-landgoed (Somerset-Wes) uitgebreek het.
Volgens Carelse is brandbestryders van Strand, Sir Lowry’s Pass en Macassar omstreeks 13:40 op ‘n noodoproep van ‘n woning wat in vlamme gehul is reageer.
Die dubbelverdiepinghuis in Mandevilla Close is heeltemal in puin gelê en die teëldak het ineengestort.
“Niemand was tuis toe die brand ontstaan het nie. Die brand is om 16:22 geblus en geen beserings is gerapporteer nie,” het Carelse bevestig.





You must be logged in to post a comment.