Owerhede op die toneel waar ‘n vrou in ‘n skietvoorval by ‘n woning in Riemvasmaak doodgeskiet is. Foto’s: Jamey Gordon

‘n Verpletterende verlies.

Dít is waardeur ‘n gesin van Sir Lowry’s Pass in die gesig gestaar word ná die tragedie wat Woensdag (12 November) in die Riemvasmaak-woongebied afgespeel en die lewe van Nandipha Gwabeni geëis het.

Die geliefde 39-jarige ma en sake-eienaar is in ‘n skietaanval by haar woning geteiken en noodlottig gewond.

Die Somerset-Wes-polisie ondersoek ‘n saak van moord en poging tot moord nadat ‘n tweede persoon ook in die voorval beseer is.

Sersant Suzan Jantjies, ‘n woordvoerder vir die Somerset-Wes-polisie, het die skietvoorval by navraag bevestig en gesê:

Twee mans het Woensdagoggend net ná 11:00 ‘n woning in Riemvasmaak binnegegaan onder die voorwendsel om drank te koop. Die oorledene se man het die mans gesien en is uit die huis sonder om dit vreemd te vind aangesien sy vrou ‘n sjebien bedryf. Terwyl hy om die huis beweeg het, het hy verskeie skote hoor klap. Hy het teruggehardloop na die huis en sy vrou noodlottig gewond aangetref.

Groot skares inwoners het in ongeloof saamgedrom terwyl die polisie hul ondersoek by twee tonele voortgesit het. Die eerste toneel was die oorledene se woning, waar sy na bewering ‘n sjebien bedryf het en ná die skietvoorval aan ‘n nekwond beswyk het.

Polisielede het die misdaadtoneel afgesper en die skare beheer. Foto’s: Jamey Gordon

Jantjies het bevestig dat die verdagtes tydens hul vlugtog skote afgevuur het wat ‘n venster beskadig het. ‘n Vrou (29) beweer egter dat haar 32-jarige man wel beseer is toe hy by die venster uitgekyk het terwyl die verdagtes gevlug het. Sy vermoed hulle het op hom geskiet uit vrees dat hy hulle sou kon uitken. Hoewel die koeël hom nie direk getref het nie en nog in die venster vassit, het hy ‘n sigbaar beseerde en bebloede mond opgedoen.

“Hy is oukei, maar ek voel baie sleg – eintlik bedonderd, om eerlik te wees. Hoe kan jy net kom skiet soos jy luskry?” het die vrou gevra.

Die tweede toneel waar ‘n koeël in die venster vasgesteek het nadat die verdagtes op ‘n manlike inwoner geskiet het.
Hoewel die man nie regstreeks gewond is nie, het hy wel ligte beserings aan sy mond opgedoen.

Die polisie vermoed die skieters het in ‘n wit Toyota Condor van die toneel af gevlug.

Volgens Gwabeni se man, Anathi Jozi (40), sukkel hy en hul vier kinders, 18, 11, sewe en twee, om die verlies van hul gesin se staatmaker, tuisteskepper en onwrikbare steunpilaar te verwerk. “Dit is net te swaar om te aanvaar dat sy nie meer hier is nie. Dis nog moeiliker om sonder haar met die lewe aan te gaan,” het Jozi gesê.

Volgens hom het hulle net teruggekkeer nadat hulle voorraad aangekoop het en was hy onderweg na die spazawinkel wat hulle ook in die gemeenskap bedryf toe die tragedie plaasgevind het.

Die voorval het ten aanskoue van hul twee jongste kinders afgespeel.

Sy was my alles en alles vir ons kinders. Sy het my gehelp om kop te hou met alles wat belangrik is. Soms wens ek, ek kon eerder die koeëls gevat het.

Volgens Jozi sal Gwabeni onthou word as vriendelik, ‘n geliefde gemeenskapslid en gerespekteerde kleinsakevrou. “Ons hoop dat die reg sy gang sal gaan.”

READ ALSO: Young mother gunned down in driveway of Somerset West home

Die polisieondersoek duur voort en hulle versoek dat enigiemand met bykomende inligting na vore kom. Ooggetuies kan die polisiekantoor by 021 850 1303 skakel.

Polisiebeamptes het die ondersoek voortgesit en die misdaadtoneel vir leidrade deursoek. Foto: Jamey Gordon
Polisiebeamptes het die ondersoek voortgesit en die misdaadtoneel vir leidrade deursoek. Foto: Jamey Gordon

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article