Die Macassar- en Distrikte-inwonersvereniging (Macdra) is ná drie dekades hervestig deur veteraan-aktiviste met ‘n nuwe tussentydse komitee.

Die Macassar- en Distrikte-inwonersvereniging (Macdra), wat veral tussen 1990 en 1994 ‘n belangrike rol in die daaglikse stryd van Macassar-inwoners gespeel het, is onlangs ná drie dekades van onaktiwiteit hervestig.

Plaaslike aktiviste wat verantwoordelik was vir die oorspronklike stigting van hierdie dinamiese organisasie het onlangs byeengekom om Macdra weer lewe te gee. Verskeie veteraan-aktiviste is tydens ‘n Erfenisdagviering op Woensdag 24 September vereer vir hul rol in die bevrydingstryd, onder wie Vincent Shabangu, David Kennel, Jan Booysen en Rina Manuel. Die rugbybekendes Gabriel Noble en Warren Wilters is ook vir hul bydrae tot nie-rassige sport as Saru-spelers gehuldig.

Macdra se tussentydse komiteelede (agter van links) is Johann Magerman, Gaston Isaacs, Desmond en Judy-Ann Stevens, Rhoda Bazier en Cupido Cedras. Voor: Catherine Magerman, Merceline Liebenberg, Heinrich Magerman en Zelda Cedras.

‘n Emosiebelaaide skyfievertoning het hulde gebring aan 34 afgestorwe aktiviste, insluitend lede van die Swartbewussynsbeweging, soos Paul Endley en Andrew Adams, Ashley Kriel van Umkonto weSizwe sowel as die Azapo-aktiviste Daniel Cornelius, Jonathan Simons en Gerrit van Rooyen.

Peter Jones, Steve Biko se destydse vertroueling wat instrumenteel was in Azapo se plaaslike tak, is ook gedenk.

Die plaaslike historikus Ebrahim Rhoda het ‘n lesing oor slawerny gelewer, waarna die nuwe tussentydsekomitee van die hervestigde organisasie onder leiding van die voorsitter, ds. Johann Magerman, bekendgestel is.

David Kennel, Macdra se voormalige hoof, is as ere-president benoem.

Die hervestigde organisasie het steun verklaar aan Palestina en beplan om as ‘n organisasie sonder winsbejag te registreer om gemeenskapskwessies soos veiligheid, jeugprobleme, opvoeding en omgewingskwessies die hoof te bied.

‘n Sertifikaat van erkenning word deur Johann Magerman (links) en Gaston Isaacs (regs) aan David Kennel, destydse hoof van Macdra, oorhandig.
Rina Manuel (middel), destydse aktivis van Macdra ontvang ‘n sertifikaat van erkenning vanaf Rhoda Bazier (links) en Merceline Liebenberg (regs).
Struggle-veteraan en voormalige plaaslike leier van die Swartbewussynsbeweging, Vincent Shabangu word deur Desmond Stevens (links) en Heinrich Magerman (regs) vereer. Shabangu was destyds ’n stigterslid van Macdra.
Charles Jackson (middel) en André Grove (regs) oorhandig ’n sertifikaat van erkenning aan die plaaslike rugbylegende, Warren Wilters. Hy was vereer vir sy rol in die opheffing van die gemeenskap en nie-rassige sport. Wilters en Gabriel Noble (wie in sy afwesigheid vereer is) was albei destyds deel van die SARU-span
James Kruger (plaaslike aktivis), David Kennel (destydse hoof van Macdra), Ebrahim Rhoda (historikus) en Rhoda Bazier (lid van interimkomitee). Die historikus was vereer vir sy bydrae tot die navorsing van plaaslike geskiedenis en sy rol as opvoeder.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article