‘n Verdagte is in verband met die verdwyning van ‘n plaaslike tiener in hegtenis geneem en het Maandag (4 Augustus) op aanklagte van ontvoering en verkragting in die Strand-landdroshof verskyn.
Die inhegtenisneming volg nadat ‘n vermiste tienermeisie verlede maand opgespoor is.
Sosialemediaberoepe om hulp om die tienermeisie op te spoor het Facebook oorstroom en is sedert haar verdwyning wyd op WhatsApp gedeel.
Gebede vir die meisie se veilige terugkeer is verhoor toe ‘n naasbestaande dae ná haar verdwyning die welkome nuus dat sy gevind is, op Facebook gedeel het.
Die inskrywing het talle positiewe reaksies van gemeenskapslede ontvang, wat verligting en dankbaarheid uitgespreek het vir haar veilige hereniging met familie en geliefdes.
Volgens inskrywings wat met haar verdwyning op sosiale media versprei is, is sy laas gesien toe sy haar huis verlaat het en later naby die Da Gama-kloktoring in Kusweg gesien is, sy maar het nooit teruggekeer nie.
‘n Pamflet, wat deur The Pink Ladies gedeel is, het ‘n beroep op mense gedoen om op die uitkyk te wees vir enigiemand wat haar beskrywing pas.
Volgens ‘n betroubare bron is die tiener net voor 12:00 op Dinsdag 22 Julie na die Strand-polisiekantoor gebring. Lede van die publiek het die meisie, wat by die beskrywing pas, in Laer Gordonsbaai-weg sien loop. Hulle het gesien sy lyk verward.
“Die tiener het sigbaar getraumatiseer en verdwaas gelyk,”
het die bron gesê en bygevoeg dat mediese behandeling voorsien is voordat sy in haar ouers se sorg vrygelaat is.
Volgens ‘n polisiewoordvoerder is die verdagte, ‘n 55-jarige man, Vrydag (1 Augustus) in hegtenis geneem. Luidens ‘n polisieverslag het die tiener na bewering gereël om ‘n vriend te ontmoet, maar ‘n onbekende man het haar genader. Die verdagte het beweer sy naam is dít wat die vriend s’n is en gevra waarvoor sy wag.
Toe die tiener gesê het sy is moeg, het hy haar ‘n plek aangebied waar sy kan rus. Sy is glo na ‘n plek geneem waar sy later haar bewussyn herwin het.
Sy was blykbaar vasgebind en aangerand. Sy het ontsnap en hulp van die publiek gesoek.
Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder lt.kol. Malcolm Pojie word die saak deur die Khayelitsha-polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek. Die saak is tot Dinsdag 12 Augustus vir ‘n formele borgtogaansoek uitgestel.
Distrikspos & Helderberg Gazette het die familie vir kommentaar gekontak, maar hulle het in die lig van die strafregtelike ondersoek besluit om nie in hierdie stadium verdere besonderhede bekend te maak nie.





