Tristin Pienaar
Tristin Pienaar (19). Foto: Jana Scheepers

Tristin Pienaar (19) van die Paarl is só lief daarvoor om met sy Hondamotorfiets mee te ding dat hy al meer as 100 keer geval het, maar nog nie een keer besluit het om die handdoek in te gooi nie.

Pienaar is oorspronklik van Johannesburg, maar het saam met sy gesin aan die einde van 2020 na die Paarl verhuis waar hy verlede jaar aan Clift College gematrikuleer het.

Hy is betrokke by die Greeff Christie’s International Real Estate-tak in die Paarl waar hy tans werk en sy kwalifikasie voltooi om ‘n agent te word.

Hy het die afgelope Vrydag (28 November) sy motorfiets buite dié eiendomsagentskap geparkeer sodat mense sy bloedrooi en blou Honda CBR Fireblade RRR SP van naby kan aanskou.

Tristin Pienaar
Tristin Pienaar (19) tydens ‘n wedren. Foto: Verskaf

Pienaar kon reeds op tweejarige ouderdom ‘n motorfiets ry en het op vier aan sy eerste ren deelgeneem, wat hy gewen het. Van daar af was die koeël deur die kerk en hy het op dié sport verlief geraak. Hy het vertel sy pa was op sy dag ook ‘n bobaas-renjaer en het toegesien dat sy seun ‘n passie vir die sport ontwikkel. Sy pa besit tans die Moto Bike Shed in Brackenfell.

Vandag maak hy opslae as ‘n motor-fietsrenjaer en het onder meer onlangs aan die Motorcycle Racing Series Suid-Afrika deelgeneem, wat hy gewen het. Pienaar het deur die jare aan verskeie ander renne deelgeneem, wat insluit verskeie eerste plekke in 2024 – onder meer twee keer by die Port Elizabeth 200-ren asook twee kampioenskappe in dieselfde jaar.

Pienaar spog ook met die titel van vinnigste renjaer op die Killarney-renbaan in Kaapstad met ‘n rondtyd van 1 minuut en 11 sekondes.

Volgens hom is hy passievol oor die sport omdat hy sy liggaam “dwing om iets te doen waaraan hy nie gewoond is nie”.

Hy beskryf dit as opwindend en ‘n adrenalien-inspuiting en voeg by dat hy deeglik voorberei deur fiks te bly, gereeld in die gimnasium te oefen en dikwels op sy fiets te ry.

Hy verduidelik hoewel hy reeds meer as 100 keer geval het, hy nog nooit ernstige beserings opgedoen het nie, behalwe vir één gebreekte vinger en ‘n enkele harsingskudding.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article