Nóg ’n skokbesluit ruk ‘Boer soek ’n vrou’

Vir Mariska het die reis saam met Arno tot ’n einde gekom.
Vir Mariska het die reis saam met Arno tot ’n einde gekom. Foto: Verskaf

Onsekerheid neem toe op Willie se plaas nadat een van sy drie kuiergaste besluit om hom eerder te groet. Intussen stuur Arno die eerste kuiergas huis toe, terwyl JD en sy twee pasmaats nog tyd kry om die vrae tussen hulle uit te klaar.

Die spanning het in episode 7 van Boer soek ’n vrou op kykNET merkbaar toegeneem toe die eerste moeilike besluite tydens die plaaskuiers geneem moes word. 

Groot onsekerheid het op Willie se plaas geheers, waar een van sy drie kuiergaste besluit het om haar aan die proses te onttrek.

Aan die begin van die episode het aanbieder Reandi Grey die vraag gestel wat toenemend oor elke plaas hang: “Gaan die boer se pasmaat by sy lewe inpas?” Die boere het nog een geleentheid gekry om hul kuiergaste op ’n uitstappie te neem voordat belangrike keuses gemaak moes word.

Willie (37), ’n bees- en mielieboer van Harrismith in die Vrystaat, het Madelé, Lezelle en Tayla vir ’n perdry-uitstappie geneem. Madelé het vir die eerste keer perd gery, terwyl Lezelle en Tayla gemakliker met die aktiwiteit was. Willie het sy vaardigheid met die polostok gewys en boonop erken dat hy potensiaal begin sien.

Madelé het vir die eerste keer perd gery. Foto: Verskaf
Tayla was geen vreemdeling op ’n perd se rug nie. Foto: Verskaf

Die ligte oomblikke het egter plek gemaak vir ernstiger gesprekke. Willie het geskerts dat alle mans eintlik seuns van twaalf is en dat “hulle gaan altyd wil karretjies speel”. 

Madelé het daarop gesê ’n mens behoort jou nie blind te staar teen die kleiner “nitty-gritty” nie – selfs nie wanneer ’n man harige tone het nie.

Tayla sê sy't gevoel Willie hou nie eers van haar nie. Foto: Verskaf
Tayla sê sy’t gevoel Willie hou nie eers van haar nie. Foto: Verskaf

Toe Reandi op die plaas aankom, het Tayla erken dat sy ’n keerpunt bereik het. Hoewel sy aanvanklik gehou het van wat sy gesien het, het kleiner kwessies haar begin pla. Sy het gesê sy het probeer om ’n band met Willie te vorm, maar twyfel of hy enigsins van haar hou.

Kort voor die bom gebars het, het die drietal gevoel Willie beweeg weg van hulle. Foto: Verskaf
Kort voor die bom gebars het, het die drietal gevoel Willie beweeg weg van hulle. Foto: Verskaf

Lezelle en Madelé het begrip vir Tayla se standpunt gehad. Volgens Madelé het Willie dit duidelik gemaak dat hy tyd nodig het, maar die beskikbare tyd raak min. Sy het gemeen dat hy nou sy “grootmensskoentjies” moet aantrek. Reandi het die vroue verseker dat elkeen nog alleen tyd met Willie sou kry.

Willie het intussen aan Reandi erken dat hy buite sy gemaksone is en nie daaraan gewoond is om soveel mense gelyk om hom te hê nie. Reandi het hom daarna meegedeel dat een van die pasmaats besluit het om nie met die proses voort te gaan nie. Die nuus het hom sigbaar verslae gelaat, en hy het alleen in die sitkamer agtergebly.

Willie was onkant betrap deur Tayla se besluit. Foto: Verskaf
Willie was onkant betrap deur Tayla se besluit. Foto: Verskaf

Op Arno (28) se bosbouplaas in Tzaneen het ’n ander soort besluit gewag. Hy het sy drie pasmaats na Magoebaskloof geneem vir ’n boomtoptoer. Rosanne was die enigste wat dit al voorheen aangepak het, sowat tien jaar gelede. Arno het gesê die groep se bereidwilligheid om die avontuur aan te pak, het hul toewyding aan die proses gewys.

Die senuwees het maar gelol met hierdie uitdaging. Foto: Verskaf
Die senuwees het maar gelol met hierdie uitdaging. Foto: Verskaf

Hy het egter erken dat hy nog nie dieper, persoonlike gesprekke met die drie vroue gevoer het nie. Reandi het hom daaraan herinner dat hy moes besluit wie bly en wie huis toe gaan. 

Rosanne het die proses as ’n “sprong van geloof” beskryf, maar vir Mariska het die reis saam met Arno tot ’n einde gekom. Hy het gesê sy staan aan die begin van ’n nuwe hoofstuk en dat hy nie in haar pad wil staan nie.

Mariska het die eerste persoon geword wat deur een van die boere huis toe gestuur is. Foto: Verskaf
Mariska het die eerste persoon geword wat deur een van die boere huis toe gestuur is. Foto: Verskaf

JD (28), wat met gemengde boerdery naby Reitz in die Vrystaat boer, het sy kuiergaste na The Bakery geneem om suurdeegbrood te bak. Leoné het met die deeg gesukkel, waarna JD gehelp het. 

JD is 'n boer wat selfs suurdeeg-brood kan bak. Foto: Verskaf
JD is ’n boer wat selfs suurdeeg-brood kan bak. Foto: Verskaf

Sy en Lara het gesê hulle het nog verskeie vrae wat hulle met hom wil bespreek.

Op JD se plaas kan daar nog lekker piekniek gehou word. Foto: Verskaf
Op JD se plaas kan daar nog lekker piekniek gehou word. Foto: Verskaf

Hoewel Reandi die moontlikheid geopper het dat een van hulle huis toe kon gaan, het niemand dié keer tasse gepak nie. Die twee vroue kry dus nog tyd saam met JD.

Inskrywings vir seisoen 19 is oop

  • Die vervaardigers van Boer soek ’n vrou is reeds op soek na boere vir die 19de seisoen van die reeks.
  • Manlike en vroulike boere van alle ouderdomme mag inskryf, mits hulle ongetroud en ouer as 21 jaar is.

Boere kan op die volgende maniere inskryf:

  • Besoek www.kyknet.tv om aanlyn in te skryf of ’n inskrywingsvorm af te laai.
  • Bel 079 614 2229.
  • Stuur ’n e-pos na: boer@wolflightsa.com
  • Inskrywings sluit om middernag op 9 September 2026.

Boer soek ’n vrou word op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos