Vir kinders wat reeds met trauma en onsekerheid moet saamleef, kan ekstra ondersteuning op skool ’n wêreld se verskil maak.
By Abraham Kriel Bambanani in Johannesburg is dié verskil reeds sigbaar. Twintig kinders, wat die afgelope twee skoolkwartale aanvullende Engels- en wiskundeklasse gehad het, se akademiese prestasie het met gemiddeld 18% verbeter.
Vir sommige was die vordering selfs meer opvallend.
Twee kinders, Gift en Faith, se punte in wiskunde en Engels het ná die ekstra klasse onderskeidelik met 42% en 48% gestyg, aldus Ricci Boonzaaier, wat by dié kinderhuis se akademiese ondersteuningsprogram betrokke is en ’n woordvoerder vir dié jeugsorgsentum is.
Volgens Boonzaaier is die doel nie bloot om kinders met huiswerk te help nie, maar om hulle vaardighede en selfvertroue te gee waarmee hulle hul skoolloopbaan kan aanpak.
Die program sluit studie- en huiswerkondersteuning, aanvullende wiskundeklasse en die ontwikkeling van leesvaardighede in. Die kinders woon drie keer per week ekstra wiskundeklasse by, wat deur ’n voormalige onderwyseres aangebied word.

Die impak van die ondersteuning is nie net in leerders se rapporte te sien nie. Kinders wat toegang tot eksterne terapeutiese ondersteuning gekry het, het volgens Boonzaaier ook merkbare emosionele en gedragsverbeterings getoon. Terapie vervul ’n belangrike rol in die verwerking van trauma, terwyl dramaterapie kinders met selfuitdrukking en kulturele ontwikkeling help. Dit lei tot die belangrikste van alles – groeiende selfvertroue.
“Hulle het meer selfvertroue en is gelukkiger. Hul gedrag het ook verbeter en hulle stel nou meer belang in al hul skoolwerk. Die program verrig wondere in hierdie kinders se lewe,” sê Boonzaaier.
Die Kinderfonds se ondersteuning is deel van ’n groter poging om kinders nie net deur moeilike tye te help nie, maar hulle vir die toekoms toe te rus.
“’n Kind verdien meer as oorlewing,” sê Adrie van Staden, die uitvoerende hoof van Die Kinderfonds.
• Intussen kan die publiek ook ’n bydrae gee en terselfdertyd aan die fonds se jaarlikse kompetisie deelneem.
Skenkers het die kans om R200 000 of ’n Toyota Vitz te wen. Die kompetisie sluit op 7 November.
’n R50-skenking gee een inskrywing, terwyl R250 ses inskrywings bied (dus ’n ekstra inskrywing). Volledige inligting is by diekinderfonds.co.za beskikbaar. Navrae kan aan Van Staden by 061 479 4791 gerig word.
