Suid-Afrika se inflasie het in Augustus net effens gestyg, met die jongste syfers wat wys dat prysdruk in die algemeen nog betreklik gedemp bly.
Die jaarlikse inflasiekoers het tot 4,4% gestyg (van 4,3% in Julie), terwyl die verbruikersprysindeks maand op maand onveranderd gebly het.
Dit is volgens Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) se jongste syfers, wat verlede week bekend gemaak is.
Patrick Kelly, die hoofdirekteur van prysstatistieke by Stats SA, het daarop gewys dat inflasie vir voedsel en nie-alkoholiese drankies vir die eerste keer sedert November 2025 gestyg het – van 0,9% in Julie tot 1,1% in Augustus. Die algemene gesondheidsindeks het intussen maand op maand gedaal.
Die onveranderde maandelikse inflasiesyfer was ook beter as wat die mark verwag het.
Kevin Lings, Stanlib se hoofekonoom, sê die laer-as-verwagte syfer is grootliks te danke aan laer brandstofpryse en gedempte voedselpryse.
Hy wys ook daarop dat daar nie juis ander noemenswaardige prysveranderings was nie.
Dit sluit meubels, huishoudelike toestelle, voertuie en sekere ontspanningsgoedere in. Sommige van dié pryse kry steeds steun van goedkoper invoer.
Voedselpryse het in Augustus maand op maand onveranderd gebly, terwyl brandstofpryse gedaal het.
Brandstof was egter steeds aansienlik duurder (20%) as ’n jaar gelede.
Kerninflasie, wat deur die Reserwebank dopgehou word wanneer hulle oor rentekoerse moet besluit, het ook effens afgeneem – tot 4,1%. Hierdie syfer lê egter buite die Bank se inflasieteiken van 3%, met speling van een persentasiepunt na weerskante.

Wandile Sihlobo, die hoofekonoom van Agbiz, sê die lae voedselinflasie word steeds deur ’n ruim 2025-’26-landbouseisoen ondersteun.
Graanprodukte, vrugte en groente is van die belangrikste wat pryse laag hou, terwyl vleisprysinflasie ook begin afkoel het.
Hy verwag dat voedselinflasie vir die res van vanjaar redelik laag kan bly, maar waarsku dat die prentjie in 2027 kan verander. Hoër brandstofkoste kan die verspreiding van voedsel duurder maak, terwyl ’n moontlike El Niño-droogte volgende seisoen se oeste kan raak.
Jee-A van der Linde, ’n senior ekonoom by Oxford Economics Africa, verwag eweneens dat inflasie teen jaareinde tot naby 5% kan styg.
Oxford Economics verwag inflasie van gemiddeld 4,2% vanjaar en 3,8% in 2027.
