Huishoudings se skuldlas swaarder as gedink

Finansies.
Foto ter illustrasie: Getty Images

Suid-Afrikaanse huishou­dings het die afgelope paar jaar ’n groter deel van hul inkomste aan skuld afgestaan as wat vorige syfers aangedui het, volgens Nedbank se ontleding van hersiene Reserwebank-data.

Nicky Weimar en Johannes Khosa, ekonome by Nedbank, sê huishoudings se skuldkoste het in die eerste kwartaal van 2024 as ’t ware 10,6% van hul besteebare inkomste beloop, teenoor die 9,4% wat voorheen aangedui is.

Die druk het volgens die Reserwebank se jongste kwartaallikse verslag sedertdien effens verlig.

Die koste om skuld te diens, het in die tweede kwartaal van vanjaar tot 9,4% van besteebare inkomste gedaal – van 9,5% in die eerste kwartaal.

Huishoudings se totale skuld het ook verbeter en het tot 61,3% van besteebare inkomste gedaal – laer as die vorige 62,1%. Dit was omdat hul inkomste vinniger as hul skuld gegroei het.

Dié ekstra ruimte het egter nie huishoudings se spaarsituasie verbeter nie.

Die Reserwebank se breër maatstaf van bruto huishoudelike besparing wys ook op voortgesette druk. Die spaarkoers het in die tweede kwartaal tot 1,2% van die bruto binnelandse produk gedaal – van 1,3% in die eerste kwartaal, omdat verbruiksbesteding effens vinniger as nominale besteebare inkomste gestyg het.

“Jy sou inderdaad kon redeneer dat huishoudings die verbetering in besteebare inkomste moet gebruik om meer te spaar,” sê Elize Kruger, ’n onafhanklike ekonoom. Maar sy merk op dit het nie gebeur nie “as gevolg van die druk op huishou­dings se begrotings, waarvan die koste van brandstof die grootste knelpunt is”.

“Die kumulatiewe verhogings in brandstofpryse is radikaal negatief vir begrotings.”

Die petrolprys het in die tweede kwartaal met amper R8/ℓ gestyg, wat huishoudings waarskynlik genoop het om ekstra geld aan ver­voer te bestee, wat andersins gespaar kon word, aldus Kruger.

Sy sê dit het ook druk op diskresionêre besteding geplaas, met huishoudings wat toenemend hul geld op noodsaaklikhede moes bestee.

“Suid-Afrikaanse huishoudings het reeds ’n baie lae spaarkoers en spaargeneigdheid. Dit lei daartoe dat huishoudings se vermoë om ’n krisis of terugslag te hanteer, swak is en ook dat baie Suid-Afrikaners nie gemaklik kan aftree nie.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos