‘Die All Blacks gaan Saterdag met alle mag opdaag’, maar spoedvraat Grant Williams sê Bokke is slaggereed

Springbok-skrumskakel Grant Williams.
Springbok-skrumskakel Grant Williams. Foto: Facebook/SharksRugby.

Met Springbokafrigter Rassie Erasmus wat van sy gebruiklike werkswyse afwyk deur eers Donderdag sy span aan te kondig, was dit interessant dat die skrumskakel Grant Williams Dinsdagmiddag die media te woord gestaan het.

Erasmus kondig gewoonlik sy span vroeg in die week aan, maar vir die eerste toets van die Greatest Rivalry-reeks het hy besluit om te wag. Die feit dat Williams by die perskonferensie teenwoordig was, is waarskynlik ’n sterk aanduiding dat die Sharks-skrumskakel deel van die 23-tal vir die Ellispark-kragmeting sal wees.

Williams het egter sy kaarte styf teen die bors gehou en gesê dit sou ’n groot voorreg wees indien hy vir die wedstryd gekies word.

“Ons moet tot Donderdag wag vir wanneer die span bekendgemaak word,” het Williams gesê.

“Dit kan Morné [van den Berg], Cobus [Reinach] of Herschel [Jantjies] wees, maar as ek die eer kry om Saterdag te speel, sal my taak wees om seker te maak die span beweeg vorentoe.

“Ek gaan nie fokus op my posisie of wie teenoor my speel nie, maar as ek die geleentheid kry, is my werk om die span eerste te stel, en dieselfde geld vir die ander spelers.”

LEES | Woordeoorlog vererger namate Bokke Kiwi’s se oortredings by afbreekpunte uitlig

Toe hy uitgevra is oor die invloed van die Bokke se oorwinning van 43-10 oor die All Blacks in Wellington verlede jaar, het Williams gesê dit behoort tot die verlede en dat al hul energie op hierdie week se wedstryd gefokus is.

“Ek onthou net die oorwinning, maar dit was ’n heel ander week, met ’n totaal ander ingesteldheid voor die wedstryd,” het hy gesê.

“Die All Blacks gaan Saterdag met alle mag opdaag, maar wie ook al vir die naweek gekies word, sal gereed wees vir die uitdaging en seker maak ons verteenwoordig Suid-Afrika op die beste moontlike manier.”

Erasmus het Maandag verduidelik waarom hy besluit het om sy spanbekendmaking uit te stel.

“Ja, die aankondiging eers op Donderdag is uit respek vir Nieu-Seeland en omdat ons weet hoe taai hierdie wedstryd gaan wees,” het Erasmus gesê.

“Spesifiek in hierdie geval dink ons hoe minder tyd hulle het om vir ons span voor te berei, hoe beter.

“Dit is dus nie ’n kwessie van arrogansie nie, maar van respek.”

  • Saterdag se wedstryd in Johannesburg skop om 17:10 af.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos