Die Suidoosterfees se burgemeestersbal is op Saterdag 19 September by die Lagoon Beach Hotel in Kaapstad aangebied. Vriende, vennote en ondersteuners van die kunstefees het by dié stylvolle geleentheid byeengekom om fondse in te samel vir die ondersteuning van kunstenaars in die teaterbedryf, en om skoolkinders wat nog nooit in ’n teater was nie, ’n eerste ervaring te bied.

By dié glansryke geleentheid het Azelia Morkel, die Suidoosterfees se direksievoorsitter, die feesdatums van 2027 aangekondig, asook die feestema: Draai die gety. In 2027 sal die fees van 26 April tot 2 Mei vir die 24ste keer in die hart van Kaapstad aangebied word.
Mnr. Eddie Andrews, Kaapstad se onderburgemeester, het gaste by die bal verwelkom. Hy het sy toespraak begin deur te verwys na die moorde op vroue in Gauteng wat tans die nuus oorheers, en ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om alles in hul vermoë te doen om die tragiese gety van geslagsgebaseerde geweld te help draai.
Andrews het meelewing uitgespreek met die moordslagoffers se naastebestaandes en gaste gevra om ’n oomblik van stilte te handhaaf.

Foto: Natalie Gabriels Photography
“Hulle verlies daag ons almal uit om verder as woorde te gaan en ons opnuut daartoe te verbind om met een stem en onwrikbare vasberadenheid te sê: Genoeg is genoeg.”
In sy toespraak het Andrews die Suidoosterfees as veel meer as ’n jaarlikse kultuurgeleentheid beskryf. Die fees is ’n platform wat werk skep, opkomende talent ontwikkel, Kaapstad se kreatiewe ekonomie versterk en verseker dat die uiteenlopende stories van die stad se mense steeds gehoor word.
Hy het benadruk dat sterk vennootskappe tussen die regering, sakewêreld, befondsers, gehore en kunstenaars noodsaaklik is om ’n kreatiewe sektor te bou waarin talent kan floreer.

Volgens Azelia Morkel dien Stad Kaapstad, een van die Suidoosterfees se hoofborge, se verbintenis tot die kunste as inspirasie en rigtingwyser vir die fees se aktiwiteite.
Sy het verwys na ’n uitspraak van mnr. Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se uitvoerende burgemeester, in 2017, toe hy gesê het dat die Moederstad sal aanhou om in inklusiewe openbare ruimtes te belê en fasiliteite beskikbaar te stel vir inisiatiewe wat opkomende kunstenaars bemagtig.

“Die Suidoosterfees is in sy wese ’n ontmoetingsplek waar generasies, tale, kulture en stories bymekaarkom,” het Morkel gesê. “Ons wil hierop voortbou deur die kunste te gebruik om nuwe gehore te ontwikkel, jongmense deel van ons feeskultuur te maak en deure en geleenthede te open wat nie altyd vir almal toeganklik was nie.”
Die opbrengs van die burgemeestersbal word aangewend om geleenthede vir opkomende én gevestigde kunstenaars te skep. Ontwikkelingsprojekte wat jaarliks deur die fees aangebied word, soos NATi Jong Sterre, die ATKV-Koorkompetisie en die Hoërskool Dramafees, sal by die fondsinsameling baat.

Gaste by die burgemeestersbal het ook hul beursies oopgemaak vir die fees se Borg ’n kind-inisiatief, wat leerders van skole in onderbediende omgewings van die stad in staat stel om SOF Junior, die Suidoosterfees se kinder- en jeugfees, gratis by te woon. Die bedrag wat deur gaste geskenk is, sal 182 leerders in 2027 voorsien van busvervoer én toegang tot ’n teaterervaring by die Suidoosterfees.

Tydens die bal is gaste deur feeskunstenaars soos Moegammat Zayd Damon, Daniel Anderson en Die Papier Familie-orkes vermaak. Studente van Dance for All het ook opgetree voordat gaste die dansvloer kon betree. Die akteur Dean John Smith was die seremoniemeester.

Anderson vertrek binnekort na die Verenigde State as deel van ’n nuwe internasionale samewerking tussen die Suidoosterfees en die National Theater Institute. Dié projek sal uiteindelik jong kunstenaars uit die Oos-Kaap en New York vir ’n nuwe produksie by die 2027-fees byeenbring en sluit aan by die fees se fokus op talentontwikkeling en die skep van nuwe geleenthede.

Benewens die besoekers uit New York, sal die Suidoosterfees ook ’n Kanadese dansgeselskap by die fees verwelkom. Dié inisiatiewe sluit aan by mnr. Eddie Andrews se wens tydens sy toespraak dat die Suidooster sal aanhou waai.
“Mag hy aanhou om nuwe stemme, nuwe idees en nuwe talent na ons verhoë te bring,” het hy aan gaste gesê.
- Die volledige feesprogram sal in Februarie 2027 op suidoosterfees.com beskikbaar wees.
