‘Boer soek ’n vrou’: Gaan die families wél hul dogters se pasmaats kies?

Intieme oomblik tussen JD en Leoné. Foto: Skermgreep
Intieme oomblik tussen JD en Leoné. Foto: Skermgreep

“Dit verg baie selfvertroue om in ’n nuwe groep mense in te stap en jou menswees vir hulle te wys. Wie weet? Hulle word dalk jou familie,” het aanbieder Reandi Grey met die afskop van die 13de episode van die huidige reeks van kykNET se gewilde maatsoekreeks, Boer soek ’n vrou, gesê. Hoe belangrik is eerste indrukke, wou sy weet.

Francois en Sonel

Kuiertyd op Wellington. Foto: Skermgreep
Kuiertyd op Wellington. Foto: Skermgreep

Francois moes vir eers Hoedspruit verruil om by Sonel in Wellington in die Kaap te gaan kuier. En, het hy erken, hy was maar op sy senuwees om haar mense te ontmoet. Maar hy moes nie net daar wys wat in hom steek nie. Sonel het hom kort voor lank op die padelbaan die stryd aangesê.

Dis nie seker wie werklik die padel-wedstryd gewen het nie. Foto: Skermgreep
Dis nie seker wie werklik die padel-wedstryd gewen het nie. Foto: Skermgreep

Francois het dit baie geniet en gesê dat hy dit bo ’n wynproe verkies het. En die twee het intussen ook uitgevind hoe kompeterend hulle kan wees.

“Ek het nie geweet hulle maak hulle nog so mooi nie,” het Sonel se ma, Karin, laat hoor nadat sy vir Francois ontmoet het nie. En wat vir haar nog lekkerder was, was om te sien hoe diep die twee in mekaar se oë kyk. “So mooi.”

Sonel se ma, Karin, en haar sus, Rozel. Foto: Skermgreep
Sonel se ma, Karin, en haar sus, Rozel. Foto: Skermgreep

Sussie Rozel kon nie glo hoe stralend Sonel gelyk het nie en het gesê dis iets wat sy lanklaas gesien het.

Hy het weldra erken dat daar vlinders is – en ’n opgewondenheid oor wat voorgelê het met die ontmoeting van Sonel se vriende later in die dag.

Tyd om die vriende en familie te ontmoet. Foto: Skermgreep
Tyd om die vriende en familie te ontmoet. Foto: Skermgreep

“Hy praat meer as wat sy doen, en dis nogal ’n prestasie,” het Jolise, haar vriendin van skooltyd, laggend opgemerk.

“Ek glo en vertrou dat hulle gelukkig sal wees as hulle sélf besluit hulle is vir mekaar,” het Sonel se pa, Kobus, ernstig verklaar.

Karel lyk al te ingenome met sy dogter se boer. Foto: Skermgreep
Karel lyk al te ingenome met sy dogter se boer. Foto: Skermgreep

Jack en Hanri

Op sy beurt het Jack die pad van Hermanus na Durbanville se rigting ingeslaan want dis waar Hanri haarself bevind. Sy was vas oortuig hy sou goed vaar met haar mense want hy’s goed met mense. En hy ken die omgewing. Die glimlagte was baie breed toe hy daar gestop het – en die drukkie nóg warmer . . .

Dis mos nou 'n behoorlike verwelkoming. Foto: Skermgreep
Dis mos nou ’n behoorlike verwelkoming. Foto: Skermgreep

Van haar ouers, Janneke en Henk, se kant was die eerste indrukke baie positief. Dis mos ’n goeie begin en kort voor lank is daar kopstukke gesels oor alles en nog meer. Selfs boet Brendan lyk ingenome met die man wat by sy suster kom kuier het.

Janneke en Henk. Foto: Skermgreep
Janneke en Henk. Foto: Skermgreep

Jack was baie ingenome daarmee dat hy vir Hanli in haar element kon ervaar.

Die twee het heerlik rinkink. Foto: Skermgreep
Die twee het heerlik rinkink. Foto: Skermgreep

Vir die bekendstelling van Jack aan haar vriende, het Hanri se senuwees gelol, iets wat haar verbaas het want sy ken hulle almal reeds vir baie lank.

“Very solid. Baie aangenaam,” was die gevolgtrekking.

Op sy beurt het Jack tog ’n bietjie senuweeagtig gevoel, maar die opgewondenheid het botoon gevoer.

“Ek hou van Jack. Hy’t ’n mooi, oulike persoonlikheid en hy’s ’n nice ou,” het Hanri se oom Neil laat hoor. En haar tannie Carien was ewe positief oor die boer wat so maklik by almal ingepas het. Haar broers, Brendan en Robert, het op hulle beurt gevoel Jack en Hanri is dieselfde tipe mense.

Hanri se broers, Brendan en Robert. Foto: Skermgreep
Hanri se broers, Brendan en Robert. Foto: Skermgreep

Maar, soos die gesegde lui: “Uit die mond van die suigeling” en Hanri se drie nefies het meer as genoeg op die hart gehad.

“Ek dink Jack is goed,” het dit van Morné gekom en Adrian het gedink Jack is perfek vir Hanri.

Die bekkige Adrian, Simon en Morné. Foto: Skermgreep
Die bekkige Adrian, Simon en Morné. Foto: Skermgreep

“En ek dink Jack is mooi,” was Simon se bondige antwoord.

Arno en Rosanne

Die twee op pad na hul piekniek. Foto: Skermgreep
Die twee op pad na hul piekniek. Foto: Skermgreep

In Komatiepoort was dit piekniektyd vir Arno en Rosanne, maar ook ’n vaart op die Krokodilrivier en vierwielmotorfiets-ry op die kaarte. Arno het die entjie wat hulle moes stap om haar mense te ontmoet, vergelyk met daardie tonnel waardeur rugbyspelers moet gaan voordat hulle op die veld kan draf.

Skoonmaaktyd ná vierwielmotorfiets-avontuur. Foto: Skermgreep
Skoonmaaktyd ná vierwielmotorfiets-avontuur. Foto: Skermgreep

“Ons gaan nou die opposisie sien,” het hy dit ligtelik probeer afmaak voordat hy Rosanne se ma, broer en skoonsuster in die oë moes kyk. Hy het wel seker gemaak dat elkeen ’n geskenkie van hom ontvang het: ma Ilsé blomme, skoonsus Melissa-Leigh sjokolade en boet Ruan biltong.

Rosanne se skoonsus, Melissa-Leigh, en boet Ruan. Foto: Skermgreep
Rosanne se skoonsus, Melissa-Leigh, en boet Ruan. Foto: Skermgreep

Spontaan, vriendelik en borrelende jong man is hoe Ilsé hom opgesom het. Kort voor lank het Arno vir haar familie genoem hoe dankbaar hy is vir Rosanne, want nou kan hy dinge saam met iemand doen.

Vir Ruan was dit goed om te sien hoe Rosanne bloos as Arno net vir haar kyk, en dan daardie glimlagte wat die twee deel . . . En Melissa-Leigh het die glinstering in die oë baie duidelik opgemerk.

Ilsé was ewe beïndruk met die borrelende, spontane en vriendelike jong boer.

Met hul aankoms om die familie te ontmoet, het almal spontaan weggespring deur “Lekker verjaar” vir Arno te sing want dit was immers sy verjaardag. Rosanne was egter so oorweldig deur emosie en dit het op sy skouers gerus om die ys te breek.

Arno moes intree toe Rosanne deur haar emosies oorweldig is. Foto: Skermgreep
Arno moes intree toe Rosanne deur haar emosies oorweldig is. Foto: Skermgreep

“Hy’s ’n oop, eerlike man. En hy’s opreg. En hoe hy vir Rosanne gehelp het toe sy so gehuil het toe hulle aangekom het . . . dit was net wonderlik gewees,” het ’n emosionele Ilsé met groot waardering opgemerk.

Ilse kon nie help om emosioneel te raak oor hoe Arno haar dogter behandel het nie. Foto: Skermgreep
Ilse kon nie help om emosioneel te raak oor hoe Arno haar dogter behandel het nie. Foto: Skermgreep

JD en Leonè

Senuweeagtig, maar gelukkig. Foto: Skermgreep
Senuweeagtig, maar gelukkig. Foto: Skermgreep

JD was meer as net ’n bietjie gespanne toe hy Leonè se mense moes ontmoet. Ten spyte daarvan het haar ouers gedink hy’s ’n ongelooflike kalm mens en ’n “mooi seun, ’n eerlike seun” het haar pa, Jan, goedkeurend sy opinie oor hom kwytgeraak.

Leonie en Jan. Foto: Skermgreep
Leonie en Jan. Foto: Skermgreep

Haar ma, Leonie, het besluit dat altwee se ogies blink en hulle het gevoel daar kan ’n pad vorentoe vir die twee saam wees. Boonop het hulle ook gehou van die eerste indrukke wat hy gelaat het. Die res van Leonè se familie, sibbes Julindi en JW, het ook opgemerk hoe die twee na mekaar kyk . . .

Julindi en JW. Foto: Skermgreep
Julindi en JW. Foto: Skermgreep

Hoe later hoe kwater. JD se glimlag het al breër gerek en hy het baie gehou van wat hy gesien het. Dit het begin lyk of JD die kol getref het met die familie, maar hoe suksesvol sou hy wees om die teiken te tref met werklike kleiduifskiet?

Dit het 'n paar probeerskote geneem . . . Foto: Skermgreep
Dit het ’n paar probeerskote geneem . . . Foto: Skermgreep

En JD? Hy wil maar net lekker met almal oor die weg kom.

“Nee, f*k,” het hy laat hoor toe hy nie die teiken getref het nie. Maar hy het dit tog wel later aan skerwe geskiet. Maar wat ongetwyfeld vir JD ’n kolskoot was, was die manier waarop Leonè sommer kaalvoet gaan teiken skiet het.

Kolskoot. Foto: Skermgreep
Kolskoot. Foto: Skermgreep

“Haar persoonlikheid raak net vir my beter,” het hy glimlaggend erken.

Reandi. Foto: Skermgreep
Reandi. Foto: Skermgreep

Reandi sê

“Om in iemand anders se wêreld in te pas, gaan nie net daaroor dat jy hulle wêreld moet omhels nie. Dit beteken ook hulle wêreld moet jou omhels. Maar kom ons wees nou eerlik: wie kan nou nie van ons boere hou nie?

“Tog, wanneer dit kom by jou geliefdes en hulle harte, is ’n eerste indruk blywend.”  

  • Die reeks word oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos