“Om al 10 boere vir die eerste keer saam te sien en te hoor wat hierdie proses vir hulle beteken het en hul stories te hoor, is ’n voorreg soos min. Elkeen se pad is só anders, maar elkeen se storie is só spesiaal.”
Dis Reandi Grey aan die woord met die finale episode van die 18de seisoen van kykNET se gewilde maatsoekreeks, Boer soek ’n vrou. Ongelooflik hoe hierdie reis oor duisende kilometers heen met sonskyn, onweer, liefde en allerhande kronkelpaaie vir die boere verloop het.
Met die saamkuier by Langkloof gaan kykers uitvind hoe elkeen van hulle hierdie reis ervaar het.
DIE TOP-5 BOERE
Francois, wildbewaarder van Hoedspruit

Van al die boere was Francois seker die blyste dat sy keuse, Sonel, wél betyds uit Katar kon terugkeer vir die oulaas-saamkuier tydens die boere se reünie. Die twee word as standvastig en volwasse beskryf, en dan help die feit dat altwee betreklik aantreklik is en met donker hare spog, natuurlik ook sake aan.
“Hulle wérk net.”
Reandi wil weet
“Waar staan ons nou en hoe lyk die pad vorentoe,” wou sy gou by die twee donkerkoppe hoor.

“Ons stap die pad. En ons hoop na mooi dinge toe,” het Sonel laat hoor. En erken dat daar baie meer as vriendskap tussen hulle twee aan die gang is. Die afstand tussen hulle is nie lekker nie, maar dit hou hulle glad nie terug om planne te maak en seker te maak hulle ruim tyd daarvoor in tussen die langafstandoproepe deur. Maar hulle is meer as gerat vir die langtermyn . . .

Arno, bosbouboer van Tzaneen

Die liefde het ongetwyfeld opgedaag vir Arno en Rosanne. Hy het gesê hy voel bevoorreg om saam met haar in die Kaap te kan wees. En die twee was dit eens dat dit altyd lekker vir hulle is om saam te wees.
Vir hom was dit duidelik dat daar diegene was wat gereed was om saam nes te skrop, en dan die res wat nog eers bietjie op die werf wou rondloop.
Reandi wil weet

Arno het vir Reandi vertel dat hy vir Rosanne sommer dieselfde dag toe hy haar gekies het om agter te bly, gevra het om sake “amptelik” te maak, “want hoekom moet ’n mens dan nou wag, want vandag is perfek?”
Rosanne het sonder huiwering ingestem daartoe en het vir Reandi vertel dat dit Arno se stem was wat haar laat besluit het om vir hom in te skryf – nog voordat sy gesien het hoe hy lyk. Nou’s dit ook nog ’n bonus, het sy gelag.
En ja, daar’s beslis al planne in plek. Is daar dalk ’n verskuilde boodskap in Arno se woorde dat 2026 tot dusver ’n uitstekende jaar was wat op ’n hoogtepunt gaan eindig?
Jack, appel- en peerboer van Hermanus

Jack het tydens die vakansieweek erken dat hy nog nie dáár is waar hy sake vorentoe wou neem met Hanri nie. Vir haar was dit moeilik want sy het hom beslis in ’n ander lig beskou.
Tog het die twee besluit vriendskap is veiliger vorentoe. Maar nie al die boere vermoed dit gaan platonies bly nie . . . en hulle het goeie redes om so te dink.
Reandi wil weet
Sy het sommer met die deur in die huis geval met “watter rol speel Hanli in jou lewe op die oomblik?” Praat van ’n bokkie in die kopligte vasgevang. En toe moes die waarheid uit.
“Ek en Hanli date nou,” het Jack erken. “Ons is nie saam nie, maar ons date nou en ons gaan op date-goedjies.”
Reandi was heeltemal in die war, want wat het dit nou eintlik beteken? Hanli het haar gou ingelig dat hulle nog nie kêrel en meisie, oftewel “amptelik”, is nie – hulle sien net wel mekaar.

En wat sy opmerking betref het dat hy nie gevind het wat hy gesoek het nie, het hy nou verduidelik dat dinge net te vinnig vir sy persoonlikheid gebeur het. Na die vakansieweek is hulle meer doelbewus rondom hul saamkuier. Kwaliteittyd, eintlik. Oftewel “goeie dinge vat tyd” aldus Hanli.
JD, gemengde boerdery van Reitz

Die Vrystaatse boer moes verlede week uitvind dat hy sterker gevoelens vir Leonè koester as wat sy teenoor hom ervaar het. Hy het toe maar op eie houtjie opgedaag.
Willie, bees- en mielieboer van Harrismith

Sy pad na liefde was met meer dorings as rose besaai, veral toe sy twee gekose pasmaats, Lezelle en Madelé, sommer kort voor lank besluit het hulle gaan nie die pad verder stap nie. Dalk het hulle hom nie so goed geken soos wat die boere doen nie.
Hulle voel hy’s ’n fees van ’n mens en dat sy hart baie beslis op die regte plek sit.
DIE RES VAN DIE TIENTAL
Junior, gemengde boerdery van Bethlehem

Junior was baie verlig toe Reandi hom aan die begin ingelig het dat hy nie genoeg briewe gekry het om een van die top-5 boere te wees nie. Want sien, dié boer het reeds vir Denise ontmoet – en die twee blom behoorlik!
Vir haar voel dit onwerklik, meer soos ’n droom of ’n feëverhaal. Haar groot wens was net dat elkeen van die boere tóg wel iemand gaan raakloop wat hulle gelukkig sal maak. Dié paartjie dra al die boere se goedkeuring weg as ’n oulike kombinasie.
Boonop was Denise die eerste meisie waarmee Junior kontak gemaak nadat hy sy briewe ontvang het – en die res, soos die spreekwoord lui, was geskiedenis.
Reandi wil weet

Ja, het Denise erken, sy het destyds vir Junior ’n brief én ’n pakkie gestuur, ten spyte daarvan dat haar ma wou hê sy moes vir een van die ander boere skryf. Maar geeneen van hulle het haar hart so laat klop as wat Junior se foto gedoen het nie.
Toe sy noem van die kunsmis, saadjie en kelp wat in haar pakkie was, het Reandi onmiddellik besef wie sy was. Dit was die heel eerste pakkie wat Junior oopgemaak het! En daai pakkie het behoorlik met hom gepráát . . .

Skaars drie dae later het die twee ontmoet en twee weke daarna was dit “amptelik”. Nou moet die twee net nader aan mekaar kom woon.
Luan, skaapboer van Strydenburg

Dis nie net die eerste keer dat hierdie jong boer in die Kaap kom nie, maar hy het boonop iemand saamgebring. En dis lekker, het hy verklap. Mikyla is haar naam en hy blom behoorlik met haar hand styf in syne.
Sy medeboere is baie bly hy het iemand soos Mikyla gevind en self die feit dat sy in Gqeberha bly, verhoed die twee nie om hul verhouding te laat werk nie. Dis iets wat Junior en Denise goed verstaan, want hulle bly ook omtrent dieselfde afstand van mekaar af.
Reandi wil weet

“Hoekom het jy vir Luan ’n brief geskryf?” wou Reandi sommer van meet af aan by die finalejaarstudent in Biokinetika uitvind. Vir haar was dit net daardie iets in Luan se video wat haar ’n wyle tot stilstand gebring het.
Vir die skamerige boer was ’n wolveiling in Gqeberha ’n goed-genoeg verskoning om planne te maak vir koffie met Mikyla. Toe ontaard die koffie-tyd sommer ook in ’n braai. En kort voor lank ’n week se kuier op die plaas.

Maar Luhan het nog tyd gevra voordat hy die “amptelike” vraag gaan vra, en pleit dat Reandi moet bekommerd wees omdat hy dit nog nie gedoen het nie. Dit gaan nog gebeur.
Jacques, makadamianeutboer van Nelspruit

Hy was oortuig daarvan dat van die boere wel liefde gevind het. En alhoewel hy, Willie, JD en Leandi nog nie daardie liefde ervaar het nie, glo hy vas dat dit nog vir hulle gaan gebeur.
Volgens hom het hulle deelname aan Boer soek ’n vrou die bal aan die rol gesit en bietjie spoed gegee.
David, gemengde boerdery van Vierfontein

“Dis maar die proses om ’n pasmaat te kry,” het David sy deelname aan die reeks beskryf. Ook hy het ewe liefies hand-aan-hand daar aangekom met Frances en altwee se oë het ook al te veel geblink.
“Twee aangename mense,” het Junior laat hoor en dit lyk of hulle mekaar reeds jare lank ken, het Jack gevoel.
Reandi wil weet
“Hoe, waar en wanneer?” wou Reandi sommer gou weet. Frances het vertel dat hulle net voor die “Boer soek ’n vrou-storie begin het” mekaar op ’n app raakgeloop het. Vandaar het dinge vinnig geloop en die twee het gereël om mekaar by ’n troue te ontmoet. Toe was die vet in die vuur . . .
Gelukkig het David oop kaarte met haar gespeel oor sy inskrywing vir Boer soek ’n vrou en die twee het besluit om te kyk hoe dinge vandaar gaan uitspeel.
Gaan daar ’n volgende stap geneem word?

“Ja, wel, die volgende stap is soort van in die pos,” het David laat hoor.
Leandi, beesboer van Ventersdorp

Vir haar het die proses emosioneel uitputtend geraak, maar dit was ook vir haar lekker om almal te sien.
Sy word ook as ’n sterk vrou deur die boere se pasmaats beskou. Maar sy het ook ’n baie sagte kant.
Die ‘Single’s Club’

Dis nou JD, Leandi, Willie en Jacques wat sommer self besluit het dis waar hulle inpas. Vir nou, altans.
Reandi wil weet
Het enigiemand opgevolg op die briewe wat hulle ontvang het, wou sy weet. Leandi het wel opgevolg en selfs iemand in persoon gaan ontmoet. Maar die gevoelens is óf daar, of nie daar nie. Sy het daarby volstaan.
Jacques het wel ook opgevolg, maar vir hom is dit nog ’n deurlopende proses.
“Ek het darem nie soveel meisies deurgedraf sedert ons mekaar laas gesien het nie,” het hy met ’n skewe glimlaggie reageer. Hy het nie een van die briefskrywers ontmoet nie, maar “dalk” het hy iemand anders iewers tussendeur raakgeloop.
JD het ook aan die beurt gekom. Hy het gesê dat hy en Leonè na afloop van die vakansieweek op vriendskap ooreengekom het. “Dis nou maar een van daai dinge, nie alle verhoudings werk nou uit nie,” het hy laat hoor.
Willie het genoem dat hy sedertdien weer met Lezelle en Madelé gesels het om seker te maak alles en almal is oukei en kalmer. Dit het Reandi allesbehalwe ontspoor. Sy wou meer weet van daardie gesprekke.

Platjie wat Reandi is, wou sy tot groot vermaak by Leandi weet of sy nie dalk met een van hierdie drie enkellopende boere nader kennis wou maak nie. Nee, was die antwoord, soms met dinge maar net gelos word om hul eie gang te gaan.
So sê die boere

Arno: “Onbeskryflik. En iets wat elkeen vir homself moet ervaar.”
Jack: “Groei. Jy leer so baie van jouself as ’n man.”
JD: “Stresvol maar lekker.”
Leandi: “Dis ’n rollercoaster.”
Francois: “Uitdaging. Dis vir niemand maklik om jou gevoelens oop en bloot te stel vir almal nie.”
En wie’s die grootste stoutg*t in die groep? Soos ’n koor: Willie!
Die skaamste? JD.
Wie gaan eerste verdwaal op die plaas? Francois het wel verdwaal, maar sy verskoning is dat die paaie verspoel was.

Die grootste drama-queen of -koning? Jack.
Wie gaan eerste trou? Arno en Rosanne.

Die grootste les geleer?

Volgens Arno is dit dat perfektheid nie bestaan nie. Vir Willie was dit om nie op jouself op te gee nie. Kies jouself, glo Sonel. Leandi noem dat die enigste konstante faktor in hierdie proses juis net jy sélf is. Vir Hanli was dit om te leer om situasies te hanteer waaroor jy nie beheer het nie.
Jy moet kanse vat in die lewe as jy iets belangriks wil hê, het dit van Junior gekom.
“Die lewe is kort, skryf in vir Boer soek ’n vrou, geniet dit en moet nooit terugkyk nie,” was Jacques se boodskap.
En met al hierdie wyshede aan die einde van hierdie seisoen, het al die boere en hul pasmaats hul glasies gelig en saam met Reandi ’n heildronk op die liefde ingestel.

- Die finale episode van Boer soek ’n vrou is Donderdag 22 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
