Aardklop: ‘Daar is iets vir jou,’ sê Alexa Strachan

Feesgangers loop deur stalletjies by 2025 Momentum Aardklop.
Feesgangers loop deur stalletjies by 2025 Momentum Aardklop. Foto: Thapelo Gratitude Marwele.

Aardklop wil vanjaar bewys dat ’n kunstefees nie net vir die geharde teater- of musiekliefhebber is nie, maar vir die hele gesin.

Volgens Alexa Strachan, die uitvoerende hoof van Momentum Aardklop, is die fees se program doelbewus saamgestel om in ’n wye verskeidenheid belangstellings te voorsien – van klassieke musiek en drama tot komedie, natuur­aktiwiteite, kindervermaak en groot musiekoptredes.

“Ons is ’n gesinsfees,” sê ­Strachan, wat beklemtoon dat Aardklop vanjaar iets vir feitlik elke feesganger bied.

Die NWU-galery gedurende die 2025 Aardklop-uitstalling.
Die NWU-galery gedurende die 2025 Aardklop-uitstalling. Foto: Thapelo Gratitude Marwele.

Een van die produksies, wat volgens haar besonder uitstaan, is ’n stuk oor ’n blinde karakter, wat ernstige temas met humor benader – Vlindervry. Strachan sê hoewel die produksie skreeusnaaks is, spot dit geensins met gestremde mense nie.

Sy beskryf die produksie as “werklik fantasties” en wys daar­op dat bekende name soos ­Cindy Swanepoel en Jeanne-Marié Koekemoer deel van die rolverde­ling is. Die fees se klassiekemusiek­aanbod kry vanjaar ook ’n hupstoot met die opgeknapte NME-konservatorium. Volgens Strachan is baie hard gewerk om die ruimte betyds vir die fees ge­reed te kry.

Die opgeknapte ruimte sal ook ’n besondere oomblik huisves wanneer ’n produksie sy buiging daar maak – iets wat volgens Strachan die publiek deel van ’n nuwe hoofstuk vir die venue maak.

Een van die vele tente waar feesgangers by stalletjies kan koop.
Een van die vele tente waar feesgangers by stalletjies kan koop. Foto: Thapelo Gratitude Marwele.

Aardklop se fokus strek egter veel verder as net die verhoog.

Strachan sê die feesterrein bly ’n belangrike deel van die erva­ring, met kosstalletjies, aktiwi­teite en vermaak vir verskillende ouderdomsgroepe. Meer aandag word ook vanjaar aan gesonder kos­keuses gegee. Vir gesinne kan die koste van ’n fees egter vinnig styg.

Volgens Strachan wissel dagkaartjies van R80 tot R120, terwyl kinders jonger as 12 jaar gratis toegang kry. ’n Weekkaartjie kos R350.

“Daar is iets vir jou,” sê sy.

Musiekliefhebbers kan onder meer uitsien na Mango Groove, terwyl jonger feesgangers ook hul eie gunstelinge op die program sal aantref, soos Die Piesangskille en Early B.

Stalletjies by die 2025 Momentum Aardklop.
Stalletjies by die 2025 Momentum Aardklop. Foto: Thapelo
Gratitude Marwele.

Vir mense wat eerder buite as in ’n teater sit, bied die fees onder meer staproetes en rivieraktiwiteite aan.

Sportliefhebbers kry boonop ’n ekstra rede om die fees te besoek. Die Proteas se eendagwedstryd teen Australië vind tydens die fees naby die feesterrein plaas.

Aardklop plaas vanjaar ook ’n spesiale fokus op ­geldsinsame­ling vir die Abraham Kriel-jeugsorg­sentrum.

Strachan, wat self ’n persoonlike verbintenis met die kinderhuis het, sê ’n hele winkelruimte word aan die inisiatief afgestaan om geld vir die organisasie in te samel.

Met ’n program wat volgens ­Strachan reeds sterk kaartjie­verkope toon, lyk dit asof Aardklop se poging om verskillende gehore onder een dak te bring, momentum kry.

“Of jy wil lag, of jy wil dink, of jy wil luister, of jy wil doen – daar is iets vir jou,” is haar boodskap.

Die volledige program en kaartjie-­inligting is op Aardklop se webwerf beskikbaar.

Aardklop begin op 29 September.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos