Regering sal voorts moet verduidelik

,
Enoch Godongwana, minister van finansies, praat met die media voor die aanbieding van die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Kaapstad. Foto: Brenton Geach, Gallo Images

Toekomstige regerings sal moet verduidelik hoe hulle die staatsfinansies volhoubaar wil bestuur en aan die parlement rekenskap moet gee wanneer hulle wesenlik van hul planne afwyk.

Dis volgens ’n nuwe beginsel­gedrewe fiskale anker wat Woensdag saam met die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) aangekondig is.

Fiskale ankers moet help keer dat regerings oor die langtermyn meer geld bestee en leen as wat die land kan bekostig.

Die staat betaal tans honderd miljarde rand aan rente op dié skuld – geld wat andersins vir openbare dienste beskikbaar kon wees.

Volgens die tesourie het die staat se bruto skuldlas in die 2025-’26-boekjaar op 78,4% van die bruto binnelandse produk (BBP) gestabiliseer. Skulddienskoste sal na verwagting egter vanjaar R441,5 miljard beloop – meer as wat die regering afsonderlik aan die ganse gesondheidsektor of die basiese onderwys-sektor bestee.

Beginselgebaseerde pleks van numeriese anker

Anders as fiskale reëls wat sekere beperkings plaas, sal die voorgestelde fiskale anker elke nuwe regering toelaat om sy eie doelwitte te stel, mits hy kan aantoon dat sy planne finansieel volhoubaar is. Op ’n joernalis se vraag of die kabinet eenparig ten gunste van ’n beginselgebaseerde anker, eerder as ’n numeriese een, gestem het, het Enoch Godongwana, minister van finansies, geantwoord: “Ek het geen meningsverskil opgemerk nie.”

Trouens, volgens hom het een of twee kabinetslede eerder gevra of die voorgestelde fiskale anker nie toekomstige regerings se beleidskeuses sou voorskryf nie.

Kevin Lings, die hoofekonoom van Stanlib, verwelkom die aankondiging, maar meen die gebrek aan ’n duidelike, meetbare teiken maak dit minder oortuigend.

“Hoewel die instelling van ’n fiskale anker ’n positiewe ontwikkeling is, bied die minister se gekose anker nie ’n duidelike, meetbare en objektiewe teiken waarteen fiskale beleid beoordeel kan word nie.”

Volgens Lings sal kredietgraderingsagentskappe dit waarskynlik as ’n betreklik “sagte” fiskale anker beskou wat die regering heelwat speelruimte bied.

Annabel Bishop, die hoof­ekonoom van Investec, is meer positief. Volgens haar verwag finansiële markte dat die staatsfinansies ná die instelling daarvan verder sal verbeter.

Toesig

Die Finansiële en Fiskale Kommissie (FFC) sal die regering se fiskale plan onafhanklik beoordeel en kyk of die aannames en vooruitskattings waarop dit berus, geloofwaardig is.

Die regering en die parlement sal die kommissie se aanbeve­lings moet oorweeg en verduidelik hoe hulle daarop reageer.

Die kommissie sal nie die mag hê om ’n begroting te keer nie.

Dr. Duncan Pieterse, die ­direkteur-generaal by die tesourie, het Woensdag by ’n media­inligtingsessie beklemtoon die FFC “sal nie vetoreg oor enige begroting hê nie”.

Hy het gesê die parlement sal sy bestaande toesigbevoegdhede oor die begroting behou.

Hoe nou verder?

Die voorstel sal deur wetswysi­gings in werking gestel word.

Konsepwysigings is Woensdag vir openbare kommentaar bekendgemaak, maar nog nie formeel by die parlement ingedien nie. Die regering beoog om die wetsontwerpe in 2027 in te dien.


Kategorieë: ,

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos