Die nuus is uit . . . oftewel die “Kat(e) is uit die sak!” soos kykNET op sosiale media skryf.
Die aktrise en sangeres Kate Roothman sal die nuwe aanbieder van die gewilde kykNET-maatsoekreeks Boer soek ’n vrou wees.
kykNET, wat aanvanklik dié nuus Donderdagaand in die kletsprogram Bravo! wou bekendmaak, is genoop om kykers ’n titseltjie vinniger in te lig oor wie die 10 boere van die 19de seisoen gaan vergesel. Dit ná die nuus soos ’n veldbrand begin versprei het.
Hoewel dit nou die aanvanklike fanfare van die bekendstelling ietwat in die wiele ry, bewys dit net weereens hoe suksesvol die program is, en hoe graag kykers hulle in enige Boer soek ’n vrou-nuus wil inwurm.
“Boer soek ’n vrou is so ’n geliefde deel van Suid-Afrikaanse kultuur. Om in die voetspore van die wonderlike vroue voor my te tree, is ’n groot eer,” sê Roothman in ’n persverklaring.
Volgens Kate lê Boer soek ’n vrou se gewildheid in die egtheid van die mense en hul ervarings.
“Dit gaan oor hoop, die natuur en die feit dat almal uiteindelik op soek is na iemand om hul lewe en drome mee te deel. Kykers sien hulself en soms selfs hul eie familie in hierdie stories.”
- Lees ons onderhoud met Kate Roothman in die splinternuwe uitgawe van Die Papier, wat Vrydag op die rakke is.
