“Liefde is twee siele wat mekaar vind. Dis ontasbaar, maar dit gee kleur aan ’n mens se lewe. Vir dié wat dit hier gevind het, was dit ’n onvergeetlike ervaring . . . een wat dalk hoop vir ander kan bring,” was Reandi Grey se versugting vir die boere wat aan die 18de seisoen van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou deelgeneem het.
In verlede week se episode het Arno vir Rosanne gevra om langer op die plaas aan te bly en JD se kop en hart het gelyk vir Leoné gekies . . .
Kykers is op ’n mespunt gelaat met die spanning wat duidelik koning gekraai het op Willie se plaas. Wie weet watter drama nog in hierdie episode gaan afspeel?
Teeblare, trane en . . . nog trane
Reandi het vir Anri en Hanli op ’n uitstappie geneem. Op pad daarheen het Anri vertel Jack wou hulle met tee in die bed verras het en Reandi wou weet wat die boodskap in hul teeblare was. Maar dié boer het hom met sy gaste misgis. Hulle was lank reeds op en wakker en in die kombuis . . .

Maar in die motor op pad na hul uitstappie, het die emosies vir Hanli oorweldig en sy kon nie haar trane terughou nie. Nee, dit was nie iets wat iemand gesê of iets wat gebeur het nie, maar sy het “soos die dood” gevoel want die afgelope week het sy reeds olik gevoel. Hul eerste stop was die kliniek.

Daar sou sy bly terwyl Reandi en Anri na Wild Restoration koers gekies het waar hulle aan ’n skattejag in die fynbos deelgeneem het. Rupert het die twee touwys gemaak het oor indringerplante wat verwyder moes word sodat die inheemse plantegroei kan voortleef.
Kort voor lank het Anri ’n “popper” in die hand en het die hulle in alle ywer begin om die onwelkome gaste te ontwortel. Reandi het sommer sonder ’n “popper” indringerplante begin uittrek.

Later het Hanli by hulle aangesluit en sy het beslis baat gevind by haar kliniek-sessie. By Noem & Co het die twee hul soektog na ’n geskenkie vir Jack voortgesit. Die twee het elkeen vir hom ’n sleutelhouer met fynbos-blommetjies gemaak – en hy het baie daarvan gehou.

Was Hanli reg toe sy gevoel het Jack het reeds die vorige dag sy keuse tussen hulle twee gemaak? Anri het ook so gevoel, maar was glad nie seker wie sy keuse was nie. Maar nadat sy vir lank enkellopend was, het sy gevoel sy is nou reg om ’n verhouding te laat werk.
Reandi kom kuier
Jack het vir Reandi vertel hoe hy telkemale verras was deur sy twee potensiële pasmaats. Die vraag is net: wie het hom genoeg verras om sy keuse te maak? Om die waarheid te sê, hy was selfs verras deur sy eie keuse.

Toe hy die aankondiging moes maak, het Jack gesukkel om sy emosies in toom te hou en die woorde het maar moeilik gekom. Dit was Anri wat moes huis toe gaan – en dit was Hanli wat die snikkende boer moes vertroos.

Later het Jack vir Reandi gesê hy het vir Hanli gekies want sy’s “die hele vibe”.
Renosters, ‘lewensmaatjies’ en daai ‘ja’
Beniska en Sonel het intussen ’n hegte vriendskapsband gesmee en die twee erken hulle kuier saans in mekaar se kamers en skinder so ’n bietjie oor die dag se gebeure. En, het Beniska laggend laat hoor, as Francois nie een van hulle twee as lewensmaat kies nie, gaan hulle twee saam daar uitstap as “lewensmaatjies”.

By die Hoedspruit Endangered Species-sentrum het hulle gaan kennis maak met renosters – maar nie om net te kyk nie. Hulle moes die bomas skoonmaak! Soos Reandi humoristies opgemerk het: “Ons is die miskruiers vandag”.

Daar was meer as renosters om te sien. Soos die grasieuse koning-jagluiperds wat hier gerehabiliteer word.

JP het die twee by JJ’s Bones of the Earth verwelkom waar hulle ’n geskenk vir Francois wou uitsoek want die man hou glo van hout. Beniska se pa is sélf iemand wat van houtwerk hou terwyl Sonel by haar ma geleer het hoe om “te skuur” en self meubels oor te trek. Die twee was in hul element en slaggereed om twee snyborde vir Francois te maak.

Francois het erken dat hy sy vriende en familie gebel het toe sy twee potensiële pasmaats “miskruier” gespeel het om ook hulle opinies te hoor. Hy glo hy het wel sy keuse gemaak en het tog ook erken dat hy die twee se geselskap gemis het.

Hy het groot waardering gehad vir sy jakkalsbessieboom-geskenke wat Beniska en Sonel vir hom gemaak het. Dit is terloops sy gunsteling boom.
Reandi kom kuier
“Ek voel die basis is reg om te kan opbou, om ’n huis te kan begin bou,” het Francois vir Reandi gesê. Op haar beurt het Beniska gevoel of sy op ’n wipwarit van emosies is terwyl Sonel erken het sy sal nie nee sê as sy dalk gevra word om aan te bly nie . . .

“Ek moet ongelukkig vir iemand ‘nee’ sê om vir iemand te kan ‘ja’ sê,” het die wildboer laat hoor nadat hy altwee mooi bedank het vir die tyd en geleentheid om hulle beter te leer ken.
Die een vir wie hy “nee” gesê het, was Beniska.
Maar met groettyd moes ook Francois die klammigheid van sy oë wegvee.
Tog kon hy nie wag om Sonel beter te leer ken nie, al het hy gevoel hy ken haar teen hierdie tyd al betreklik goed.

Donderweer, blitse en nog ’n skokkende aankondiging
Dit het steeds saggies op Willie se plaas gereën, maar sou hierdie welkome buitjie die spanning ook kon wegwas? Hy het hulle baie mooi om verskoning gevra dat sy middagslapie veel langer geduur het as wat hy beplan het en dat hy laat was vir hul bymekaarkom.
Die gesels was aan die begin maar stram, en een van die twee potensiële pasmaats se glimlag het nie baie lank gebly nie . . .
Reandi kom kuier

Willie het aan Reandi genoem dat die braai met familie en vriende die vorige aand nie so goed afgeloop as wat hy voor gehoop het nie. Sy wou by hom weet of hy besef het hoe dit moes voel vir die twee gaste om die oggend wakker te word en hy, as die gasheer, is net nêrens te vinde nie. Toe moes hulle die middag nog twee ure op hom wag.
Daar was donderweer en blitse in die lug, en gewis ook in die gemoed van een van die pasmaats.
“Ek dink my tyd hiersô is verby . . . ek het eintlik nie meer woorde nie,” het een van sy gaste vir hom gesê en bygevoeg dat sy iemand verdien wat vir haar alles kan gee wat sy verdien.

En daarmee het sy omgedraai en weggestap – terwyl Willie tevergeefs sy arms uitgestrek het om haar te groet.

“Ek het ook besef ek kan nie heeltyd dink aan wat jy soek en waarna jy kyk nie, want ek moet ook dink aan wat ek soek en wanneer gaan jy op die punt kom wanneer jy in ag neem hoe ék goed sien,” het die tweede skoen geval . . .
Dié keer kon hy darem met ’n drukkie en die woorde “dan is dit nou maar so” afskeid neem.

“Goeie mens, maar dalk nog nie reg [vir ’n verhouding] nie,” het die twee en Reandi in die motor op pad weg van die plaas besluit.
Aan Reandi het Willie erken sake kon beter hanteer word en hy het nie gedink dit gaan so erg vir almal wees om net as vriende uit te stap nie.
“Ek was nie die persoon wat ek moes wees om hulle ‘op te pas’ nie,” het hy gesê. En nee, na alles wat gebeur het, gaan hy weer sy mure opbou en ’n verhouding is beslis nie op die kaarte nie.
“Mense stel jou teleur.”
Reandi sê

“Liefde verander álles. Dit maak sin van die lewe en gee ’n belangrike, kosbare gevoel waarna almal van ons bly streef. Dit is hoekom ons keer op keer liefde sal kies. Hierdie reis kan twee harte bymekaar bring. Vir dié wat dit nie nou gevind het nie, is daar altyd hoop.”
- Die reeks word oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
