Die gewilde kykNET-telenovela Diepe Waters het die afskop van sy vyfde seisoen in styl gevier. Die Papier was Dinsdag, 29 September, eksklusief agter die skerms by die Sasani-studio’s in Johannesburg om die opwinding saam met die sterre te deel.
Ná Seisoen 5 amptelik op Maandag 28 September afgeskop het, het die akteurs, vervaardigers en mediagaste by dié produksiehuis bymekaargekom om die nuwe hoofstuk van die Boskruin-gemeenskap te vier. Daar is behoorlik feesgevier oor die sukses van die reeks, wat week ná week kykers vasgevang hou met sy intense storielyne rondom die Swartmarlyne-swemklub.
Nuwe gesigte beloof groot drama
Roberta Durrant, die uitvoerende vervaardiger, het op die stel gedeel dat kykers hul reg moet maak vir reuse-turbulensie. Alhoewel daar van geliefde karakters afskeid geneem is, verwelkom die vyfde seisoen sewe splinternuwe karakters wat dinge behoorlik gaan opskud.
Onder die nuwelinge is die sjarmante tog geheimsinnige winkelsentrum-eienaar Gihan Uys (André Lötter) en sy assistent Zaz (Anré Bouguenon), asook die energieke weduwee Eurika (Bertha le Roux-Wahl). Saam met karakters soos Alexander, Aiden, Justus en Tobias, gaan die nuwe intrekkers vir sports sorg.
Die Papier het eksklusiewe video’s met die nuwe sowel as die veteraanakteurs ingesamel.
