Diepe Waters: Altus Theart sê Rossouw ‘het net sy vuur gaan haal’

Altus Theart as Rossouw in ’n toneel uit Diepe Waters. Foto: Skermgreep.
Altus Theart as Rossouw in ’n toneel uit Diepe Waters. Foto: Skermgreep.

Altus Theart het Donderdag­aand 24 September sy laaste verskyning as Rossouw in Diepe Waters gemaak, maar terwyl een hoofstuk eindig, het dié akteur se volgende een al begin.

Vir Theart was sy afskeid van Diepe Waters bittersoet.

Dit klink egter allermins asof Theart se eie storie tot ’n einde kom. “Daar’s ietsie anders in die pyplyn,” verklap hy. “Ek kan wel terugkom Diepe Waters toe as ek uiteindelik sou wou, maar iets groot is definitief aan die kom waaroor ek nog nie te veel mag sê nie.”

Hy bevestig wel dat sy volgende hoofstuk nuwe musiek én toneelwerk insluit.

Theart, wat bekendheid ver­werf het met rolle in onder meer Kruispad, Getroud met Rugby en Bakgat!, sê jare se ervaring het hom vir die rol van Rossouw voorberei.

“ ’n Mens groei en ’n mens leer,” sê hy. “Ek dink dit het gewis ’n groot invloed op my gehad om al so lank in die game te kan wees.”

Rossouw se emosionele reis het hom ook gedwing om diep te delf. Theart sê hy gebruik sy eie alledaagse emosies om in karakter te kom.

“Ons almal het al liefgehad en het al seergekry,” sê hy.

Veral die laaste dae op stel was emosioneel. “Ons was daar van dag een af – take one, scene one,” vertel hy.

“Ek het agtergekom: Hierdie is die laaste keer by die swembad . . . Die laaste keer by Gys se kantoor . . . Dit was bittersoet.”

Sy nuwe liedjie, “Ek’s terug”­, wat Vrydag 25 September uitgereik is en wat hy reeds vroeër die week in die sepie ge­sing het, vat volgens hom presies die reis as Rossouw saam. “Hy’t nie verdwyn nie, hy’t net sy vuur gaan haal.”

Dis ook die boodskap wat hy aan kykers wil oordra: Moenie jouself verloor terwyl jy vir ander mense probeer leef nie. “Begin by jouself, want eers wanneer jy jouself weer vind, kan jy ware geluk vind.”

Theart hou sy private lewe meestal uit die openbare oog, maar bevestig wel dat daar tans iemand spesiaal in sy lewe is. “Daar is ’n liefde in my lewe,” sê hy.

Wat neem Theart van Rossouw saam? “Praat die waarheid,” sê hy. “Want dít het gewoonlik die geneigdheid om terug te kom en jou aan die gat te byt.”

Wat van Rossouw laat hy agter? “Definitief die insteekhempies!”

Arno groet ook

Jean-Henry het ook verlede Woensdag sy finale verskyning as Arno in Diepe Waters gemaak. Ná die verlies van sy baba, sy pa se dood, sy ma se siekte en die verbrokkeling van sy huwelik met Karla, besluit Arno uiteindelik om weg te stap en ’n nuwe lewe by Helderhoop te begin.

Henry sê dié storielyn was van sy moeilikste werk. “Die man gaan deur ’n moeilike tyd, en almal om hom het óf gesterf, óf siek geword, óf oorsee gegaan, óf van hom geskei,” sê hy.

Anders as Arno, is Henry se eie lewe op ’n gelukkiger plek. Hy is getroud en het onlangs vir die tweede keer pa geword.

Aan kykers sê hy: “Ek hoop my toneelspel en my karakter het ’n spieël voor julle oë gehou, sodat julle jul eie emosies en ervarings beter kan verstaan.”

Sy afskeid voor die kamera is egter nie finaal nie: “Julle sal my weer sien, volgende keer as ’n ander karakter, in ’n ander storie.”

  • Diepe Waters se seisoen 5 het Maandag 28 September om 18:30 op kykNET, DStv-­kanaal 144, begin.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos