Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

Neels van Jaarsveld. Foto: Verskaf
Neels van Jaarsveld. Foto: Verskaf

Daar is ’n hele klomp vars Afrikaanse televisie-inhoud op VIA in Oktober. Neels van Jaarsveld keer terug met ’n derde seisoen van Ons gesels troeteldiere, waarin hy onder meer ’n skaaphond ontmoet wat met soek-en-reddingswerk help en ’n aangenome hond wat nuwe hoop bring. Verwag hartroerende stories oor mense en hul diere, praktiese versorgingswenke en eenvoudige selfdoenprojekte vir troeteldiere tuis.

Ook op die Oktober-spyskaart is kombuiskuiers met Aneeka Papier en vars kookinspirasie van Herman Lensing. In die vierde seisoen van Aneeka se kombuis kuier onder andere die Springbok Courtnall Skosan en sy vrou, Semonein haar kombuis, terwyl Herman se halfuur kykers met maklike resepte en slim idees vir aandete help.

Jong talent kry intussen ’n kans om te skitter in Gekies vir die kollig!, waar agt kunstenaars met die hulp van vier mentors oorspronklike monoloë vir die kamera laat lewe kry. 

Vir dié wat eerder die pad wil vat, verken die nuwe reisreeks Die beste in die Noorde bestemmings soos Dullstroom, Sabie en Tzaneen – met volop inspirasie vir die volgende wegbreek.

Hier is waarna kykers dié Oktober op VIA kan uitsien.

Aneeka se kombuis

Aneeka. Foto: Verskaf
Aneeka. Foto: Verskaf

Seisoen vier van Aneeka se kombuis bedien ’n geurige mengsel van bekende gaste, kreatiewe disse en lekker kuier.

Aneeka verwelkom dié seisoen ’n uiteenlopende groep gaste in haar kombuis, onder wie die fopdosser – oftewel drag-kunstenaar – Manila von Teez, kulkunstenaar en sosialemediapersoonlikheid Wian van den Berg, inhoudskepper Juliet Small en oorlewingsinstrukteur Clarise du Plessis. Die Springbok-rugbyspeler Courtnall Skosan en sy vrou, die digitale inhoudskepper Semone Skosan, kom kuier ook saam.

  • Die vierde seisoen begin op 5 Oktober en word Maandae om 17:30 uitgesaai.

Herman se halfuur

Herman Lensing. Foto: Verskaf
Herman Lensing. Foto: Verskaf

Sedert Julie deel Herman Lensing saam met Food Lover’s Market drie dae per week praktiese kookinspirasie op VIA met Herman se halfuur. In Oktober hou Herman steeds die pot aan die kook met drie maklik-volgbare resepte per episode – van vinnige weeksaandetes tot iets besonders waarmee jy gaste kan bederf.

Met sy kenmerkende warmte, humor en gemaklike geselstrant wys Herman stap vir stap hoe jy self die geregte kan maak. Verwag goeie bestanddele, slim idees en heerlike kos sonder onnodige ingewikkeldheid. Of jou aandete-idees opgeraak het en of jy bloot iets nuuts wil probeer, Herman help jou om met meer selfvertroue agter die potte in te skuif.

  • Dié reeks word Dinsdae tot Donderdae om 17:30 uitgesaai.

Gekies vir die kollig!

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Agt jong kunstenaars, vier mentors en een groot kans om hul talent te wys: Gekies vir die kollig! keer terug vir ’n sesde seisoen saam met die ATKV-DigiToneelkompetisie.

Vanjaar se tema, “Asem”, daag deelnemers uit om oorspronklike monoloë te skryf en met sterk spel vir die kamera lewe daaraan te gee. Die mentors Bianca Flanders, Jacques Bessenger, Karli Heine en Liezl de Kock help die finaliste om hul kameravaardighede te slyp en vir die eindronde voor te berei.

Oor vier episodes volg kykers hul reis na die finale, waar Wilhelm van der Walt en Hannah Borthwick die wenner sal aanwys. ’n Kontantprys van R10 000 is op die spel, maar eers moet dié jong talent bewys wie die kollig kan vasvang.

  • Die reeks begin op 6 Oktober en word Dinsdae om 20:30 uitgesaai.

Ons gesels troeteldiere

Van ’n aangenome hond wat nuwe hoop bring tot ’n skaaphond wat aan soek-en-reddingswerk deelneem: die derde seisoen van Ons gesels troeteldiere vier die besonderse band tussen mense en hul diere.

Neels van Jaarsveld kuier in Oktober saam met Lindzay Jade Naidoo en Coco, Jackie Taylor en haar Somali-katte, Marcelle du Plessis en haar aangenome hond Poppy, en Vicki Fox en die veelsydige skaaphond Cobalt.

Tussen die kuiers deel Melandri Kapp praktiese versorgingswenke, terwyl die eksotiese dierekenner Janke Nortje kykers aan onder meer ’n klein konyn, ’n haarlose rot, ’n kleurvolle voëltjie en ’n hamster bekend stel. 

Neels pak ook eenvoudige selfdoenprojekte aan waarmee kykers hul troeteldiere tuis kan besig hou.

  • Die derde seisoen, in samewerking met Dotsure, begin op 8 Oktober en word Donderdae om 18:00 uitgesaai.

Die beste in die Noorde

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Pak jou nuuskierigheid in en reis saam: in die nuwe reisprogram Die beste in die Noorde verken VIA van die oulikste uithoeke in die noorde van die land.

Die reis sluit plekke soos Mbombela, Dullstroom, Sabie, Pelgrimsrus, Hoedspruit en Tzaneen in. Van die Sudwala-grotte en Chimp Eden tot plaaslike eet-, koffie- en verblyfplekke bied dié roete genoeg idees vir kykers wat hul volgende wegbreek wil beplan.

Dis ’n uitnodiging om verder te kyk, nuwe bestemmings te ontdek en tyd te maak vir die kuierplekke wat ’n reis besonders maak.

  • Die nuwe reeks begin op 21 Oktober en word Woensdae om 18:00 uitgesaai.

Huisgenoot: Ware lewensdramas

Huisgenoot: Ware lewensdramas bereik in Oktober vanjaar ’n besonderse mylpaal wanneer die gewilde reeks vir sy twintigste seisoen terugkeer.

Die nuwe seisoen bring weer aangrypende ware stories na die skerm, waaronder die moorde op Hilary van Rooyen, Nadia Lotz, Cordelia Prinsloo en Franziska Blöchliger.

Met dié mylpaalseisoen kry kykers opnuut die geleentheid om die mense en gebeure agter die opskrifte van nader te leer ken.

  • Die twintigste seisoen begin op 26 Oktober om 20:00.

Nog meer om na uit te sien

Kykers kan ook die pad verder stap met reekse wat onlangs begin het, waaronder Dorpie-doenlys, Huis SOS, Keyter vir almal, Verander jou siening en Padel in die bloed. 

Op die realiteitspyskaart is Hart op soek en Kom ons braai: Familie en vriende, terwyl daar ook nuwe episodes van die vasvraprogram Wie weet wat? is. 

  • Al die programme is op VIA (DStv-kanaal 147) te sien, met heruitsendings deur die week. VIA is ook nou beskikbaar op DStv Starter, wat meer as 85 TV-kanale vanaf R99 per maand insluit.
  • Besoek www.viatv.co.za vir die volledige uitsaaiskedule en meer inligting.

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos