Hoe lyk ouerskap wanneer een ouer se werk hom gereeld vir weke van die huis af wegneem? In ’n episode van VIA se Wat ’n ma moet weet wat op 24 September uitgesaai word, vertel Marise Pollard oor hul pad na ouerskap, die uitdagings van rugbytoere en hoe sy en Springbok-losskakel Handré Pollard as ouers saamspan.
“Om kinders groot te maak, is ’n spansport,” sê die aanbieder Efraine du Toit aan die begin van die gesprek. Vir Marise (31) en Handré (32), ouers van Hunter en Isabella, kry dié woorde ’n besondere betekenis in ’n gesinslewe wat dikwels om rugbyverpligtinge beplan moet word.

In dié episode gesels Marise openhartig oor vrugbaarheidsbehandeling, ’n onverwagte tweede swangerskap en die alledaagse werklikheid van twee jong kinders grootmaak terwyl hul pa gereeld op toer is.
Van jong liefde tot ouerskap

Marise en Handré het mekaar in 2012 deur Facebook leer ken toe hulle onderskeidelik 17 en 18 jaar oud was. Hoewel trou en kinders van vroeg af deel van haar toekomsdrome was, het die eise van ’n professionele rugbyloopbaan haar laat besef dat hul gesinsplanne nie so eenvoudig sou wees nie.
“Jy kan nooit te ver vooruit beplan nie,” vertel sy. Hulle het aanvanklik besluit om tot aan die einde van Handré se loopbaan te wag voordat hulle met ’n gesin begin.
Toe Marise later verneem dat sy nie swanger kon raak nie, het hulle hulle tot in vitro-bevrugting (IVF) gewend. Ná die eerste inplanting het sy swanger geraak met Hunter.
Die plan was om sowat twee jaar te wag voor nog ’n baba. Maar toe Hunter net nege maande oud was, het hulle uitgevind dat Marise weer swanger is – dié keer natuurlik.
Isabella is op 20 Oktober 2025 gebore. Ses dae later moes Handré vir vier weke saam met die Springbokke op toer vertrek.
Die gesinslewe tussen toere deur
Met Handré se verpligtinge by die Springbokke en die Vodacom Bulls is Marise gereeld vir weke op haar eie met die kinders. Hoe pak sy dit aan?
“Soos vir ’n marathon,” sê sy.
Die afstand het ook ’n uitwerking op Handré. Marise vertel dat die tyd weg van die huis vir hom moeiliker is as wat sy aanvanklik besef het. Hy mis mylpale soos Hunter se eerste vol sinne en Isabella wat leer sit.
Wanneer hy wel tuis is, skakel hy by die kinders se roetine en die huishouding in sonder dat sy vir hom aksielysies hoef te gee. Kykers sal ook ’n minder bekende kant van die Springbok leer ken: Handré staan glo ewe gemaklik met ’n strykyster in die hand.
Vir die Pollards beteken spanwerk nie dat elke ouerskapstaak presies gelykop verdeel word nie. Soms dra die een meer as die ander. Die belangrikste, vertel Marise, is dat hulle mekaar aanvul.

- Kyk op Donderdag 24 September om 20:00 na Marise Pollard se gesprek op Wat ’n ma moet weet op VIA (DStv-kanaal 147).
