Sosaties is gewoonlik iets wat ’n mens ten duurste in ’n pakkie van ses by die winkels koop – maar dis eintlik so maklik (en meer bekostigbaar) om jou eie te maak.
Vandag deel ek ’n staatmakerresep wat ek ’n bietjie aangepas het van die kosblogger Teresa Ulyate wat in haar boek Cupcakes & Couscous verskyn.
Die geheim is die soutwater waarin die hoender eers geweek word voordat jy dit marineer.
Daar is min dinge so droog soos ’n stukkie droë hoender, daarom is hierdie stap só belangrik, want dit sorg vir lekker sagte stukkies vleis.
Die marinade met sy geure van gerookte paprika, komyn en koljander is ook besonder lekker, en die kruiejogurt waarmee dit voorgesit word, gee ’n ekstra smaakdimensie.
Hoendersosaties met ’n jogurt-doopsous
(Genoeg vir 8 sosaties)
Bestanddele
- 40 g fyn sout
- 500 ml warm water
- 4 groot hoenderborsfilette
- 10 ml gerookte paprika
- 5 ml fyn sout
- 5 ml bruinsuiker
- 10 ml fyn komyn
- 5 ml fyn koljander
- 2 knoffelhuisies, fyngekap
- 2,5 ml gemengde droë kruie
- 30 ml olyfolie
- 15 ml vars suurlemoensap
- 15 ml ongegeurde volroom jogurt
- 8 sosatiestokkies
- 2 groot soetrissies (rooi en geel)
- 1 groot rooi ui
Vir die kruiejogurt
- 125 ml ongegeurde volroom jogurt
- 5 g vars koljander, fyngekap
- 5 g vars ment, fyngekap
- 5 ml vars suurlemoensap
- Sout, na smaak
Metode
- As jy houtsosatiestokkies gebruik, plaas dit in ’n bak met water om te week terwyl jy die vleis berei. Dit sal help voorkom dat die stokkies brand wanneer jy braai.
- Plaas die sout en water in ’n bak wat groot genoeg is om die hoenderfilette te bevat. Roer sodat die sout oplos. Plaas nou die hoender in die soutwater en laat dit staan vir ’n uur. Spoel daarna die vleis deeglik af en druk droog met kombuispapier.
- Meng die paprika, sout, suiker, komyn, koljander, knoffel, kruie en swartpeper in ’n mengbak. Voeg die olyfolie, suurlemoensap en jogurt by en meng goed.
- Sny die hoender in happie-grootte stukkies en voeg by die mengsel in die mengbak. Roer versigtig, maar deeglik, sodat die marinade die vleis heeltemal bedek. Sit die bak in die yskas en laat die vleis vir minstens 30 minute marineer.
- Sny die soetrissies en ui in happiegrootte stukkies. Ryg dit om die beurt met die hoender op die sosatiestokkies. Pak die sosaties in ’n toeknyprooster en braai oor matige kole vir sowat 15-20 minute of tot deurgaar.
- Maak die kruiejogurt terwyl die sosaties braai – meng die jogurt, kruie en suurlemoensap in ’n klein bakkie. Proe en geur met sout. Bêre in die yskas tot benodig.
- Sit die warm sosaties voor saam met die koue kruiejogurt.
’n Lekker aartappelgereg of braaibroodjies is dié sosaties se perfekte pasmaats.
