Diemersdal-wynlandgoed het sy derde ABSA Pinotage Top 10-erkenning in opeenvolgende jare ontvang ná die aankondiging van die wenners by die 30ste uitgawe van die kompetisie, wat Donderdag naby Worcester in Slanghoek gehou is.
Die landgoed se wenwyn, wat die kelder se besonderse vermoë met hierdie kenmerkende Suid-Afrikaanse kultivar onderstreep, was die 2024 Diemersdal The Journal Pinotage.
Diemersdal se koelklimaat-, droëland-geboerde Pinotage is al jare lank ’n gunsteling onder die beoordelaars van die kompetisie. Oor die drie dekades wat die kampioenskap aangebied word, is die Durbanville-kelder al by 13 geleenthede in die Top 10 opgeneem, wat hom onder die beste presteerders van alle tye plaas. In die afgelope twee jaar het eers die 2022 Diemersdal Pinotage Reserve en daarna die The Journal Pinotage van dieselfde oesjaar erkenning onder die Top 10 ontvang.

Vanjaar het die kompetisie 112 wyne van 59 produsente gelok. ’n Opvallende kenmerk van vanjaar se kortlys was die aantal produsente wat meer as een finalisplek in die Top 20 verower het. Diemersdal was een van slegs drie produsente wat dit reggekry het, met die 2023 Diemersdal Pinotage Reserve, 2024 Diemersdal The Journal Pinotage en 2025 Diemersdal Pinotage almal in die wedloop.
“Durbanville se klimaat het ons nog altyd in staat gestel om met ’n reeks kultivars uit te blink, en Pinotage is al lank een van hulle by Diemersdal. Hierdie toekenning is ’n bevestiging van ons verbintenis tot die kultivar, asook tot die plek waar dit floreer,” sê Diemersdal se vyfdegeslag-eienaar, Thys Louw.
LEES: Diemersdal is Wynprodusent van die Jaar in die Platter-gids 2026
Dit is betekenisvol dat die landgoed nie net gereeld tot die hoogste vlakke van hierdie kampioenskap deurdring nie, maar ook aan die voorpunt van die meeste van die land se belangrikste kompetisies bly. Mees onlangs is Diemersdal aangewys as Wynlandgoed van die Jaar in die Platter’s by Diners Club South African Wine Guide 2026, nadat dit ’n ongekende ses vyfster-toekennings vir rooi- én witwyne ontvang het – insluitend sy twee voorste Pinotage-uitdrukkings.
Finesse
Diemersdal se rooiwyne dra die verfyning wat voortspruit uit meer as vyftig jaar se ervaring met die kultivar.
“Pinotage was nog nooit hier ’n nuwigheid nie; dit is met respek, erns en ’n strewe na finesse benader,” sê die landgoed se wynmaker, Juandré Bruwer.
Soos weer eens gedemonstreer word deur die drie wyne wat finaliste in die ABSA Top 10 Pinotage-kompetisie was, lewer dié benadering wyne met diepte sonder swaarheid, struktuur sonder strengheid, en ’n kenmerkende koelklimaat-karakter.
Die wingerde – sowat 200 ha met ’n verskeidenheid kultivars – lê op die noordelike en suidelike hange van die Dorstberg en word elke middag deur heerlike koel misse vanaf die Atlantiese Oseaan omvou.
Die druiwe word sonder besproeiing verbou, wat egalige rypwording en gekonsentreerde geure bevorder. Die kombinasie van uitstekende grond, verskillende liggings en hellings, asook die hoë jaarlikse reënval van 700 mm, dra alles by tot die unieke karakter van Diemersdal-wyne.
Van hierdie wyne verteenwoordig The Journal die uiteindelike uitdrukking van Diemersdal se terroir. Die 2024-oesjaar, wat vanjaar by die mylpaal-ABSA Pinotage Top 10 in die smaak geval het, het hierdie tradisie met trots voortgesit.
Donker vrugte
Die oes wat die wyn gevorm het, is voorafgegaan deur aansienlike reën gedurende die groeiseisoen. Droë somermaande en warm, sondeurdrenkte weer het egter daartoe gelei dat die pluk ongeveer 10 dae vroeër as die gebied se gemiddelde aanvangsdatum begin het. Die vrugte is gekenmerk deur kompakte trosse met klein korrels – ideaal vir die vervaardiging van uitsonderlike wyne.
In die kelder het die wynbereiding post-fermentasie-maserasie ingesluit, waartydens die wyn 10 dae lank op die doppe gebly het. Dit het ook 24 maande lank in 100% nuwe, 225-liter Franse eikehoutvate verouder.
Die wynmaker se proenotas beskryf die 2024-uitgawe as ’n wyn met donker vrugte en gekonsentreerde volume op die verhemelte, met gepoleerde, elegante tanniene en indrukwekkende vruggewig. “Ideaal saam met klassieke ouwêreldse geregte, soos gebraaide lamsvleis,” lui die beskrywing.
Die reeks bekroonde Diemersdal-wyne is aanlyn in die landgoed se winkel beskikbaar. Diemersdal is sowat 35 minute se ry vanaf die middestad van Kaapstad. Die proelokaal is elke dag, met enkele uitsonderings, oop. Die restaurant, Farm Eatery, is op uitgesoekte dae vir middagete en aandete oop.




You must be logged in to post a comment.