Die Kimberley-hitte het gebrand, maar dit was niks in vergelyking met die vuur op die veld nie. Diamantveld het met die kleinste van marges, 36-35, teen Monument gewen in ‘n wedstryd wat tot die laaste fluitjie enige kant toe kon gaan.
Saterdag se wedstryd het alles opgelewer, kragtige voorspelerspel, briljante agterspelervaardigheid, en die soort dramatiese wending wat ondersteuners uitasem laat.
Diamantveld het begin asof hulle Monument wou begrawe. Monnas het teruggeslaan asof hulle uit die graf wou klim. Aan die einde was dit die tuisspan se voorspelers wat die verskil gemaak het, maar net so net.
Die gashere het uit die blokke gestorm met ‘n intensiteit wat Monument laat steier het. Volgehoue druk het en ‘n uitstekende beweging, skerp lyne, die bal vinnig wyd, en ‘n drie in die hoek. Geen tyd gemors nie: 7-0 binne die openingsminute.
Diamantveld se plan was duidelik: kragtige voorspelerlopies om momentum te bou, dan blits vinnige bal na die punte. Teen die 10de minuut het hulle dit weer reggekry, 12-0 op die bord.
Monument het in die 14de minuut met hul eie wapen teruggeslaan. ‘n Dryfmaal het Diamantveld agteruit gedruk totdat Monnas se voorspelers oor die doellyn getorring het. Skielik was dit 12-7, en die wedstryd het lewe gekry.
Dit was Monument se beurt om fases bymekaar te sit. Geduldig het hulle die bal lewendig gehou, spasie in die middelveld uitgebuit, en skielik was hulle onder die pale. 14-12 vir Monument. In minder as 15 minute het die wedstryd op sy kop gedraai.
Diamantveld se voorspelers het aangehou om op amper elke dra van die bal en meters te wen. In die 29ste minuut het hulle weer gaan druk: 19-14 vir die tuisspan.
Net voordat die fluitjie vir rustyd geblaas het, het Diamantveld weer punte aangeteken; weer deur die goeie werk van hul voorspelers. 26-14 teen rustyd.
Die tuisspan het die intensiteit hoog gehou en vroeg in die tweede helfte ‘n derde voorspelerdrie gedruk. 33-14, en dit het begin lyk na ‘n gemaklike middag vir die gashere.
Maar Monument het nie gekom om toeskouers te wees nie. In die 46ste minuut het hulle ‘n strafskop gekry, dit getik, en vir hul reuse-nommervyf-slot gegee. Die groot man het met gemak oorgeduik, 33-21, en skielik was daar lewe in die besoekers se lywe.
Drie minute later het die wedstryd werklik begin vlam vat. Monument het die bal lewendig gehou. ‘n Goeie beweging het opgebou, met hul nommer 13 wat briljante werk verrig het om die heelagter in spasie te sit. Die nommer 15 se voetwerk was uitstekend toe hy die doellyn oorsteek na ‘n goeie fopaangee; 33-28.
Kimberley se ondersteuners het begin senuweeagtig raak. Monument was besig om die onmoontlike moontlik te maak.
In die 58ste minuut het Monnas ‘n geelkaart gekry. Die teëspoed het nie die Witbulle gebreek nie met hul skrumskakel wat ‘n minuut later spasie langs ‘n losgemaal uitgebuit het om oor te duik.
Skielik was die telling 33-35 vir Monument.
Met agt minute oor het Monument goed aangeval, maar Diamantveld se verdediging het met desperaatheid en weiering om weg te gaan hulle gekeer.
In die 66ste minuut het Diamantveld ‘n strafskop gekry. Drie en ‘n half minute oor, en die tuisspan het drie kosbare punte geneem: 36-35.
In die laaste minute het Monument weer aangeval, Diamantveld het verdedig asof hulle lewe daarvan afhang, longe het gebrand, spiere het geskreeu, maar niemand het opgehou nie.
Toe die eindfluitjie blaas, het Diamantveld ‘n oorwinning behaal wat net so maklik deur hul vingers kon glip.
Diamantveld se oorwinning was gebou op die platform wat hulle voorspelers gelê het. Monument se bal-in-die-hand-spel het hulle in die wedstryd gehou. Daardie vermoë om die bal lewendig te hou, spasie te skep, en ondersteuners in posisie te kry was briljant om te sien, en byna goed genoeg om die ding te wen.
Op die ou end het uitvoering die verskil gemaak. Diamantveld het hul oomblikke benut, terwyl Monument se foute op kritieke tye hulle duur te staan gekom het.
Dit kon albei kante toe gegaan het. In ‘n ander wêreld druk Monument ‘n laaste-minuut-drie en wen met vyf punte. In hierdie wêreld het Diamantveld die moed, die verdediging, en die strafskop gehad om te oorleef.
Die Kimberley-hitte was meedoënloos, maar die rugby was iets spesiaals.
- Kry skolerugbynuus soos jy dit nog nooit gesien het nie hier.





