Jannei Schler, ’n 12-jarige meisie van Despatch, se een long moes op Woensdag 26 November verwyder word.
Jannei Schler, ’n 12-jarige meisie van Despatch, se een long is op Woensdag 26 November verwyder. FOTO: Verskaf Credit: Verskaf

DESPATCH – Ná jare se hospitalisasie en ’n reeks prosedures, moes ’n 12-jarige meisie van Despatch se een long op Woensdag 26 November verwyder word.

Vir Jannei Schler het hierdie operasie die begin van ’n nuwe seisoen ingelui.

Jannei, ’n gr.6-leerder aan die Laerskool Sonop, het skaars 15 uur ná die groot operasie haar gunsteling-maaltyd aangevra.

Volgens haar ma, Monique Kitching, het Jannei behoorlik weggelê aan haar hoenderrepies en aartappelskyfies. Sy het daarna ’n stukkie melktert as nagereg geniet.

“Sy het regop gesit en ook haar eerste fisioterapiesessie gehad. En het toe boonop kort daarna vir die dokter gevra wanneer sy kan huis toe gaan!”

Die spesialis het egter gemaan dat sy effens te haastig is. Haar linkerlong, wat agt absesse gehad het en op 29 Mei vanjaar geopereer is, moes heeltemal verwyder word.

Jannei, ’n akademiese presteerder, danser en ’n Oos-Kaap-skaakspeler, is al baie lank ongesteld.

Die longoperasie moes verskeie kere uitgestel word omdat daar herhaaldelik infeksie in haar liggaam was.

“Die risiko was vroeër net te groot omdat haar infeksiemerkers te hoog was. Sy moes dan elke keer vir ses weke lank antibiotika drink en ook vier weke lank immuunonderdrukkers gebruik.”

Jannei moes ook bloedoortappings kry en het soms suurstof ontvang.

Monique het ’n spesiale dankbaarheidsboodskap aan die gemeenskap van Despatch oorgedra.

“So baie mense het vir Jannei gebid, en sonder die Pay it Forward Community Foundation se ondersteuning, sou ons hierdie pad nie kon stap nie.”

Jannei sien daarna uit om weer tuis by haar ouboet Jayden te wees.

Die gesin is vol moed dat Jannei ná meer as twee maande in die hospitaal een van die dae blakend gesond sal wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article