UD Express (Uitenhage)

Dapper Jannei (12) se long is verwyder, maar die gees is ontembaar

Jannei Schler
Jannei Schler. Foto: Verskaf

DESPATCH – ‘n Dag voor haar mamma se verjaardag, is ‘n 12-jarige meisie van Despatch se een long verwyder.

Die byna vyfuurlange operasie het ‘n nuwe fase vir Jannei Schler en haar gesin ingelui.

Haar mamma, Monique Kitching, het aan UD Express bevestig dat dit bo verwagting goed gaan met Jannei.

Dit was vir beide die chirurg en vir Jannei ‘n uitdagende operasie.

Jannei het volgens haar mamma, die dag na Kersfees verlede jaar, oorpyn gekry.

“Dit het later oorgegaan in sinusitis. Jannei het toe ook gelaatsverlamming (Bell’s Palsy) gekry.”

Sy het toe ook begin gewig verloor, sy wou nie meer eet nie en het maagpyn en krampe gekry. Haar neus het ook onverklaarbaar begin bloei en sy was volgens Kitching ook baie bleek.

Geen diagnose het verband gehou met haar longe nie. Nadat sy aanvanklik deur hul huisdokter behandel is, is sy in die intensiewe sorgeenheid in die Cuyler Kliniek op Kariega opgeneem.

Hierna is sy na die St George-hospitaal in Gqeberha oorgeplaas.

Jannei het tot onlangs reeds 23 weke periodiek in die hospitaal deurgebring.

Die longoperasie moes ook as gevolg van inflammasie uitgestel word. Jannei is op 3 Oktober hospitaal toe, maar die probleemlong kon eers op 26 November verwyder word.

Jannei Schler
Jannei Schler (12) van Despatch is hier afgeneem voordat haar linkerlong op 26 November tydens ‘n byna vyf-uurlange operasie verwyder moes word. Foto: Verskaf

Volgens Kitching gaan dit goed met Jannei.

Haar eerste woorde na die operasie aan haar ma was: “Mamma, ons het dit gedoen,” het Kitching vertel.

“Ek het vir haar gesê dat sý die sterk een was. Haar eerste maaltyd was hoenderrepies en aartappelskyfies en melktert vir nagereg.”

Sy sê dat hulle verstom is oor al die gebede wat wêreldwyd vir Jannei opgegaan het, vanaf so ver as België, Australië, Oostenryk en die VSA.

Die aanloop na Jannei se operasie was by haar skool, die Laerskool Sonop op Despatch, ‘n saamstaanprojek. Tydens ‘n civvie-dag vir Jannei, het elke leerder ‘n plakker gekry om ‘n boodskap van dankbaarheid vir goeie gesondheid oor te dra.

Die Pay it Forward organisasie het haar ook verras met ‘n video waarin bekende glanspersoonlikhede vir haar boodskappies van bemoediging gestuur het.

Reach for a Dream het ook ‘n verrassing vir Jannei belowe. Sy moet egter wag tot sy sterker word en gesond is.

Haar verwyderde long is weggestuur vir analise sodat daar presies bepaal kan word wat die oorsaak van Jannei se ongesteldheid was.

Haar klasmaats en onderwysers het ook n magdom briewe en geskenkies vir haar laat aflewer.

Haar skoolhoof, Marius Kleyn, het haar ook bederf met ‘n ete by die kafeteria in die hospitaal.

Jannei is ‘n besonderse presteerder en al kon sy nie die prysuitdeling bywoon nie, het haar 83% gemiddeld en drie vakprestasiepryse almal verbly.

Volgens Kitching gaan Jannei eers aanstaande jaar weer terug skool toe. Sy is tans nog in die intensiewe eenheid in St George’s Hospitaal, maar maak baie goeie vordering.

“Sonder Jannei se ouma Amelia, haar tweede pappa Christo, ouboet Jayden, haar tannie Bianca en oom Arnold, haar tannie Colleen en oom Charl sou ons twee nie die pad kon stap nie. Tussen hulle was daar elke dag iemand wat kom inloer het, ‘n lekkerny kom aflaai of gestuur het, ‘n drukkie kom gee het en moed kom inpraat het.

“Haar pappa Heindrich het ook gereeld by ons kom kuier in die hospitaal,” het Kitching afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article