Die Dafabet Warriors, Krieket SA se nuwe T20-kampioene.
Die Dafabet Warriors, Krieket SA se nuwe T20-kampioene.

PAARL – Die Dafabet Warriors het Sondag (30 November) die Krieket SA T20-uitdaging-titel ná ’n spanningsvolle eindstryd teen Boland verower nadat die stryd ná die toegelate 20 boulbeurte gelykop geëindig het.

Met albei spanne op 142 lopies, is die wedstryd in ’n superboulbeurt beslis, waarin Tristan Stubbs en Jordan Hermann 16 lopies aangeteken het. Boland kon slegs ses lopies in hul beurt behaal, wat die Warriors hul tweede titel in vyf jaar en hul eerste T20-kroon sedert die 2009-’10-seisoen besorg het.

Goldrush Boland het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Die Warriors het Goldrush Boland van die begin onder druk geplaas en die pas aangegee vir hul sukses. Goldrush Boland het die openingskolwer Clyde Fortuin ná 3.3 boulbeurte vir 11 lopies verloor, met die telling op 29/1. Grant Roelofsen is met sy telling op 28 ná 5.2 boulbeurte uitgehaal.

Toe Goldrush se Gavin Kaplan sy derde paaltjie op 49/3 ná agt boulbeurte verloor het, het dinge nie goed gelyk nie tot dat Lehan Botha se 51 en Ferisco Adams se 32 die lopietempo gelig en Goldrush Boland se telling tot 138/5 ná 141/6 geneem het voordat die twee direk ná mekaar uitgehaal is.

Goldrush Boland se beurt is vroeg beperk toe Muthusamy twee paaltjies in die kragspel geneem en sy beurt met syfers van 3/23 afgesluit het. Die links-draaibouler Thomas Kaber het ook beïndruk met 1/18 in sy vier boulbeurte.

Jordan Hermann se 74 lopies van 53 balle het min ruimte gelaat vir die Goldrush-boulers en hulle behoorlik gestraf. Hy is goed ondersteun deur Tristan Stubbs met 37 van 32 balle, terwyl Senuran Muthusamy ‘n vinnige 19 van 18 balle angeteken het.

Nadat dit gelyk het of die Warriors die wedstryd gaan beklink, het Siyabonga Mahima die Warriors met drie vinnige paaltjies geskud en die lopietempo tydelik stopgesit. In die laaste boulbeurt het die Warriors net een lopie van die laaste vier balle nodig gehad om te wen, maar het onder druk gestruikel.

Aya Gqamane het Senuran Muthusamy met die eerste aflewering uitgehaal en toe drie kolballe gelewer voordat JP King twee lopies geneem het.

Die laaste aflewering is deur na die paaltjiewagter Clyde Fortuin, wat Tristan Stubbs met ’n direkte uitgooi uitgehaal het terwyl hy vir die lyn geduik het, die wedstryd gelykop laat eindig het en ’n superboulbeurt afgedwing het.

In die een-boulbeurt-beslissing het Stubbs en Jordan Hermann 16 lopies teen Ferisco Adams aangeteken, wat die Warriors ’n sterk platform gegee het om te verdedig.

Aphiwe Mnyanda het ’n goeie vertoning gelewer en Adams is met die eerste aflewering naby die grens uitgevang.

Die Warriors het daarin geslaag om Boland tot net 6/1 te beperk, en is as die nuwe kampioene bevestig.

Dit was die franchise se eerste T20-titel sedert die 2009-’10-seisoen en hul eerste plaaslike titel sedert hulle die Momentum-Eendagbeker saam met die Dolphins in 2017-’18 gewen het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article