KIMBERLEY – Die DA in die Noord-Kaap het Saterdag in Kimberley in hul verkiesingveldtog beloof hulle gaan skoon regering daarstel en bekwame amptenare aanstel om die waardigheid van inwoners te herstel.
Tydens die geleentheid is raadslid Heinrich Pieterse as die burgemeesterskandidaat vir die Sol Plaatje-munisipaliteit voorgestel.
Dr. Isak Fritz, provinsiale leier, en Lisa Schickerling, voorsitter, het die party se visie uiteengesit om munisipaliteite in die provinsie te “red” van wat hulle beskryf as jare se verval onder die ANC-regering.
In sy toespraak het Fritz die DA geposisioneer as die enigste “geloofwaardige alternatief vir die huidige regering”.
Hy sê geen raadslid of parlementslid sal hul posisie sou beklee sonder die DA-aktiviste wat elke dag in die koue en in die strate werk nie. Hy staan soggens op met die doel om ’n toekoms te skep vir diegene wat sonder hoop of dienste is.
Hy het die ANC gekritiseer, wat hy beskuldig van interne magstryde en korrupsie terwyl die mense van die provinsie ly.
Fritz het verwys na die wanbestuur van R1 miljard om huise vir inwoners te bou en die “bankrot” gesondheidstelsel, waar ’n tekort aan ambulanse en dokters lewens kos, terwyl dokters werkloos by die huis sit
Hy sê sakegemeenskap in Upington is gereed om te belê sodra die DA oorneem en korrupsie uitroei. Fritz het ook sy optimisme uitgespreek vir ’n oorwinning op 4 November, waar hy glo die DA in verskeie munisipaliteite alleen sal regeer.
Volgens hom erken die DA hul foute, anders as die ANC vir 30 jaar hul foute ignoreer.
“Die tyd vir die ANC is verby. Hordes mense, insluitend sleutelfigure van ander partye, stroom na die DA omdat hulle die party as ’n veilige hawe vir hul stemme beskou.” Sê Fritz
Schickerling het die kritieke toestand van Sol Plaatje (Kimberley) beskryf as ’n munisipaliteit in ’n “vreeslike toestand”.
Sy het die daaglikse uitdagings van inwoners beskryf, soos die gebrek aan lopende water, strate vol slaggate, lopende riool en opgehoopte vullis.
Schickerling het die DA se vyfjaarplan vir die munisipaliteit bekendgestel, wat fokus op die skep van werksgeleenthede, die versekering van veiliger en skoner woonbuurte en die skep van ’n omgewing wat ekonomiese ontwikkeling bevorder.
Haar party is veral besorg dat jeugdiges moet stem.
“Burgers kan nie kla oor swak dienste as hulle nie aan die verkiesing deelneem nie. Politiek beïnvloed elke aspek van die daaglikse lewe,” sê Schickerling.
Die DA het ’n beroep op kiesers van die Noord-Kaap gedoen om die party te vertrou met hul stem, met die belofte dat die provinsie onder DA-bestuur in “veilige hande” sal wees.
LEES OOK: Burgerregte-groep registreer as politieke party voor komende verkiesing






