PAARL – Die hof wag op die aanvullende lykskouingsverslag om ingehandig te word voordat die moordsaak van die 16-jarige Chanelle Plaatjies amptelik na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas sal word.
Die drie beskuldiges wat weens die dood van die tienermeisie aangekla is, het Donderdag (29 Januarie) weer in die Paarl-landdroshof verskyn. Keaton Johnson, Bradley Mamani en Theodore Qatha word aangekla van moord met voorbedagte rade asook regsverydeling.
Chanelle is laas op 14 Mei 2025 lewend gesien. Haar ontbinde liggaam is op 2 Junie in ‘n vlak graf in ‘n bebosde gebied agter die Allendale-gevangenis ontdek – deur haar familie, wat tydens ‘n soektog saam met gemeenskapslede was. Volgens Chanelle se familie was sy en Johnson ten tyde van haar dood in ‘n kortstondige verhouding
LEES OOK: Gesin hoopvol tiener (16) lewe nog
Die aanvullende lykskouingsverslag dui op die finale bevindinge oor die oorsaak van Chanelle se dood. Die landdros het ook daarop gedui dat die nodige toksikologie-verslae, grondanalise en selfoonrekords afgehandel en ingehandig is.
Tydens die hofverskyning was dit duidelik hoe Johnson en Mamani skouer teen skouer na aan mekaar staan terwyl daar ‘n groot gaping tussen hulle en Qatha is. Paarl Post het einde verlede jaar berig oor ‘n bakleiery wat tussen die drie beskuldiges in die Allandale-gevanenis, waar hulle tans in aanhouding is, uitgebreek het.

Singabakho Nxumalo, ‘n woordvoerder vir die departement van korrektiewe dienste, het die voorval, waarby dié drie gevangenes betrokke was, toé bevestig.
” ‘n Onderonsie het na bewering op 8 November 2025 tussen twee gevangenes ontstaan, wat tot ‘n stekery gelei het. ‘n Derde oortreder is ook tydens die voorval – toe hy probeer het om in te gryp – beseer,” verduidelik Nxumalo.
” ‘n Strafsaak is sedertdien vir kwaadwillige beskadiging van staatseiendom aangemeld, terwyl die departement ook interne klagtes teen die gevangenes ingevolge die gedragskode vir gevangenes aangemeld het.”
LEES OOK: Familie vra dat hooggeregshof vir Chanelle Plaatjies-moordsaak in die Paarl sit
Nxumalo het bygevoeg dat die gevangenes sedertdien weg van mekaar geskuif is om ‘n bestendiger omgewing te bewerkstellig.
Hoewel die drie mans vir Chanelle se dood aanspreeklik gehou word, slaan haar gru-dood nog diep wonde in die harte van haar familie. Dit was vir Hester Plaatjies te veel en emosioneel uitputtend om die onlangse hofverskyning by te woon.
“Ek is nie gesond nie en die goed maak my verder siek. Ek het nie die moed om daar te sit nie – ek gaan eerder by my kind se graf sit.”






You must be logged in to post a comment.