Die ontdekking van ‘n witrugaasvoël wat byna 25 jaar gelede as kuiken gering is en steeds in die Kimberley-streek rondvlieg, het die onskatbare waarde van dekades se aasvoëlnavorsing opnuut beklemtoon.
Die senior dierkundedosent aan die Sol Plaatje-universiteit en voorsitter van die Gariep Voëlklub, dr. Doug Harebottle, het die seldsame voël die afgelope naweek op die Rooifontein-wildsplaas buite Kimberley afgeneem – sonder om op daardie oomblik te besef dat hy een van die oudste oorlewende voëls van die Dronfield-aasvoëlprojek vasgevang het.
Die buitengewone en seldsame waarneming van ’n witrugaasvoël wat soveel jaar gelede gering is, werp lig op die onskatbare waarde van die langtermyn-aasvoëlmoniteringsprojek buite Kimberley waarvoor Angus Anthony, navorser bekend is.
LEES OOK: Aasvoëls: Voortbestaan van natuur se ‘skoonmaakspan’ noodsaaklik
Harebottle skryf op sy sosiale mediaplasing dit was ’n opwindende ontdekking toe ses witrugaasvoëls op kragtorings opgemerk is.
Hy het die voëls afgeneem. Terug by die huis, terwyl hy die beelde verwerk het, het hy opgemerk een van die voëls het gekleurde ringe aan sy pote .

Die foto’s is dadelik na Anthony gestuur, wat die Dronfield-aasvoëlprojek koördineer. Ná ’n bietjie opvolgwerk kon Anthony bevestig dié voël was deel van ’n groep kuikens wat reeds in 2001 by Dronfield gering is.
“Dit maak die aasvoël amper 25 jaar oud en een van die oudste oorlewende voëls van die projek. Die kleurkombinasie van groen bo geel aan die regterpoot is in 2001 as ‘n areakode vir Dronfield gebruik.” Anthony meen die voël het waarskynlik sy linker-kleurring asook sy metaalband oor die jare verloor, maar die spesifieke kleurkode op die regterpoot is bewys van sy herkoms en ouderdom.
Beklemtoon navorsing se rol
Harebottle sê die seldsame waarneming beklemtoon die deurslaggewende rol van die navorsing wat Anthony (76) al meer as 30 jaar lank op die witrugaasvoëlbevolking doen.
Anthony, wat in 2022 ’n erepenning van BirdLife Suid-Afrika vir sy lewenslange bydrae ontvang het, onderneem drie keer per jaar ’n tog van 736 kilometer vanaf sy huis in George na Kimberley om data in te samel. Daarbenewens ry hy meer as 450 kilometer in die veld agter bome met neste aan in die Dronfield-natuurreservaat en omliggende plase soos Benfontein, Samaria, Inglewood en Rooipoort.
Anthony het tot ‘n paar jaar gelede gereeld op ’n lang leer in die kameeldoringbome geklim om die neste te fynkam, die kuikens te weeg, hul vlerke te meet en hulle te ring.
In Oktober elke jaar word die kuikens aan die regterpoot gering en van vlerkmerkers voorsien sodat hul bewegings en oorlewing later nagespoor kan word. Volgens Anthony word net 50% van aasvoëlkuikens uiteindelik volwasse genoeg om te kan broei, wat langtermyn-monitering soos dié op Dronfield krities noodsaaklik maak.
Aasvoëls speel ‘n belangrike rol in die ekosisteem deur karkasse skoon te maak en die verspreiding van gevaarlike siektes en bakterieë te stuit. Hulle staar ernstige bedreigings in die gesig, waaronder bedoelde en onbedoelde vergiftiging, loodvergiftiging wanneer hulle aan karkasse vreet wat met loodammunisie geskiet is, kraglyn-botsings en elektriese skokke op kragtorings.
Die waarneming van die 2001-kuiken toon die belangrikheid van navorsing en die waarde daarvan dat voëlkykers en fotograwe gemerkte voëls opneem en aanmeld.
Enigiemand wat ‘n gekleurde of vlerkgemerkte aasvoël in die groter Kimberley-streek opmerk of afneem, word gevra om die inligting aan birdclubgariep@gmail.com of Angus Anthony by bizzybees@mweb.co.za te stuur.





You must be logged in to post a comment.