Dis nie elke dag dat ‘n verpleegster by ‘n Clicks-kliniek die geleentheid kry om ‘n baba, nogal ‘n brugbaba, te vang nie.
Die meetsnoere het vir die jong ma, Lisa Qhuzu van Kraaifontein, ‘n werknemer by Pick n Pay in Pinehurst, ook net reg geval dat dit juis Tanya de Beer was wat op Maandag 3 Augustus die dag by die Clicks-kliniek in die Pinehurst-winkelsentrum werksaam was.
Gekwalifiseerde vroedvrou
De Beer is ‘n geregistreerde verpleegter en ook ‘n gekwalifiseerde vroedvrou met kraamsaal-ervaring.
” ‘n Vroedrou is gekwalifiseerd om ondersteuning, sorg en raad aan vroue en hul gesinne tydens swangerskappe, die geboorteproses en na die geboorte te gee,” verduidelik sy.
Volgens De Beer was sy die namiddag op pad uit die kliniek uit toe een van die werknemers van Pick n Pay, wat in dieselfde sentrum is, haar vra om met ‘n noodgeval te kom help. “Toe ek daar aankom, sien ek een van die werknemers van Pick n Pay is in kraam. Ek het by haar gebly om haar te help en te ondersteun totdat die ambulans daar aankom,” vertel sy.
Kraamproses vorder vinnig
“Maar ná ‘n paar minute het ek besef Lisa se kraamproses vorder vinnig. Haar kollegas het haar na ‘n gebied toe geneem waar sy op die ambulans kon wag, en ons kon voorberei vir as die baba dalk sou arriveer voor die ambulans daar aankom,” vertel sy.
“Haar kollegas het haar so mooi ondersteun terwyl ek kalm en gefokus gebly het om die klein lyfie veilig in die wereld in te bring.
“Die Here het my baie rustig gehou om te doen wat nodig was en toe is ‘n pragtige babameisietjie voetjies eerste gebore. Hoewel dit nie die eerste baba was wat ek gevang het nie, was dit ‘n wonderlike ervaring; dit was vir my ‘n groot voorreg om daar te kon wees om te help,” sê sy.
Naam beteken ‘paradys’
Die baba is Jenete Samantha gedoop. Haar eerste naam “Jenete” beteken “paradys” in Arabies, en haar tweede naam is genoem na Samantha Qatar, Pick n Pay Pinehurst se bestuurder, wat haar ook met die geboorte bygestaan het.
LEES OOK: Baba by vulstasie gebore




