Familie vrees broer, suster van Worcester het ná ‘werksaanbod’ in mensehandel-lokval ingestap

Lesrine Filander(links) saam met haar ma, Rachel.
Lesrine Filander (links) en haar ma, Rachel.

Familie vrees broer, suster van Worcester het ná ‘werksaanbod’ in mensehandel-lokval ingestap


Sy en haar kleinboet was so deperaat vir ’n werk, dat hulle heel waarskynlik onwetend in ’n mensehandel-lokval gestap het.

So vermoed die bekommerde familie van die vermiste Lesrine Filander (23) en Peter Filander (20) van Avianpark in Worcester, wat op 10 Oktober 2026 onder die dekmantel van ’n moontlike werksgeleentheid na Goodwood gereis het.

Lesrine en Peter het sedertdien nog niks van hulle laat hoor nie.

Volgens die twee vermistes se niggie, Geraldine Louw, het ‘n vriendin van Lesrine haar [Lesrine] op 10 Oktober vertel sy het ’n man – vermoedelik Kongolees – ontmoet, wat mense werf om vir hom te kom werk.

Louw sê die man het glo nie uitgebrei oor wat die betrokke werk behels nie.

Sy vertel dat Lesrine omstreeks 16:00 die betrokke dag by haar ouerhuis in Kalkoenstraat aangekom en Peter van die werksgeleentheid vertel het.

Sy sê die broer en suster is omstreeks 17:00 met hul identiteitsdokumente daar weg.

LEES OOK: 19 Februarie: Joshlin Smith se verdwyning skok die land al vir twee jaar lank

Volgens Louw het die onbekende man glo langs die Villiersdorp-pad in ’n wit Toyota Tazz vir hulle gewag. Sy sê Lesrine se vriendin en nog ’n man van Riverview was blykbaar ook in die motor.

Volgens Louw sê die vriendin hulle het almal saam in ’n woonstel langs ‘n taxi-roete in Goodwood gekuier .

Louw sê in dieselfde kuiergeselskap was nog ‘n man – ene “Pastor”.

Louw sê sy verneem die man van Riverview, wat aanvanklik saam met hulle na Goodwood gereis het, het dieselfde dag nog in ’n minibus-taxi geklim en na Worcester teruggekeer.

Volgens Louw het Lesrine se vriendin haar meegedeel, dat toe hulle die Sondag-oggend wakker word, was Peter skoonveld. Louw sê Peter het brein-tuberkulose en is nou al geruime tyd sonder sy medikasie.

Die vriendin het haar verder meegedeel dat sy op 11 Oktober teruggekeer het Worcester toe nadat die man haar glo R130 in die hand gestop het.

Volgens die vriendin het “Pastor” hulle met hul aankoms in Goodwood meegedeel hul werk behels om selfone te verkoop.

Louw sê iemand wat hul inskrywing op Missing Persons South Africa gelees het, het laat weet dat die man glo met Lesrine baklei het omdat sy wou terugkeer Worcester toe, maar hy het geweier.

Sy sê volgens die inligting wat hulle ontvang het, was Lesrine histeries.

Louw sê hulle het ’n sterk vermoede dat Lesrine moontlik in ‘n mensehandel-lokval ingestap het.

“Die familie is baie bekommerd. Hul ma [Rachel Filander] het geen rus nie. Lesrine en Peter was nog nooit in die Kaap nie; hulle ken net Worcester.

“Hulle is hier weg sonder om enige kontaknommers te los. Hulle het ook nie selfone nie.”

Volgens Louw het die familie Lesrine en Peter op 20 Oktober by die Worcester-polisie as vermis aangemeld.

Konst. Ndakhe Gwala, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, bevestig dat die Worcester-polisie ‘n ondersoek na vermiste persone begin het ná die verdwyning van Lesrine Filander en haar broer, Peter Filander.

Volgens Gwala het die suster en broer Saterdag, 10 Oktober 2026, omstreeks 12:00 hul huis verlaat. Sy sê Lesrine is laas gesien geklee in ‘n groen romp en wit langmou-bo-stuk, terwyl Peter geklee was in ‘n blou jeans en swart T-hemp.

Enigeen met inligting oor waar hulle hul bevind, word vriendelik versoek om met die Worcester-speurders in verbinding te tree by 023 348 8605.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article