Swartland Gazette

Breinvliesontsteking moontlike oorsaak van Swartland-student se dood

Chris Scheffers (19), ‘n teologiestudent van Riebeek-Wes, his die afgelope naweek in sy koshuiskamer op die kampus van die Universiteit Stellenbosch dood op sy bed aangetref.

Chris Scheffers (19), die matiestudent van Riebeek-Wes wie Saterdag (2 Augustus) dood in sy kamer by die Dagbreek-koshuis gevind is, het weens breinvliesontsteking gesterf. Só het die Universiteit Stellenbosch in hul nuutste verklaring met betrekking tot Scheffer se dood, bevestig.

Scheffers wat in die Swartland grootgeword het, was ‘n tweedejaar-teologiestudent wie se dood as ‘n groot verlies vir die universiteit bestempel word. Grant Leukes, koshuishoof van Dagbreek, het Scheffers as ’n energieke jong man wat die afgelope twee jaar ’n belangrike rol in Dagbreek se sêr-groep gespeel het, beskryf.

“Hy was aktief by die koshuis betrokke. Ons gaan hom baie mis en dra ons opregte meegevoel oor aan sy familie.” Sy familie is omstreeks 18:00 van sy dood ingelig nadat Scheffers Vrydag glad nie gesien is nie. Toe hy steeds die volgende dag vermis is, is die kampus-sekuriteit ontbied om sy kamerdeur, wat gesluit was, oop te maak. Hulle het hom op sy bed aangetref.

‘n Gedetailleerde kontakopsporing van persone wat die afgelope tien dae in noue kontak met Scheffers was, is intussen van stapel gestuur sodat chemoprofylakse, ’n voorkomende medikasie vir breinvliesontsteking, binne die volgende 24 uur toegedien kan word om die risiko van infeksie te verminder.

“Die kampusgesondheidsdiens sal binne die volgende 24 uur direk met die mense wat kontak met hom gehad het, in verbinding tree. Dit sluit beide studente en personeel in,” het Martin Viljoen, woordvoerder vir die US gesê.

Viljoen het aan die Gazette gesê dat sy kamermaat nog nie die kwartaal in die koshuis gebly het nie. “Hy is ‘n onderwysstudent wat tans sy prakties elders doen,” voeg Viljoen by.

Hoewel daar in die stadium geen verdere bevestigde gevalle aangemeld is nie, sal die universiteit die situasie oor die volgende paar dae noukeurig monitor. “Mediese sorg word dringend aangeraai indien enige verwante simptome onder diegene wat met hom in kontak was en wie reeds die voorkomende medikasie ontvang het, ervaar word.

Geïdentifiseerde persone wat wel met hom kontak gehad het, word in die stadium aangemoedig om slegs klas by te woon indien hulle geen simptome ervaar nie, om maskers tydens lesings te dra, groepsbyeenkomste en enige kontaksport te vermy.

“As ’n voorsorgmaatreël is alle algemene vergaderings en byeenkomste in die Dagbreek-koshuis tot na die naweek uitgestel,” het Viljoen bevestig.

Volgens die kampusgesondheidsdiens begin die bakteriële infeksie aanvanklik met griepsimptome soos hoofpyn, spier-en gewrigspyn en ligsensitiwiteit wat geleidelik vererger. Dit sluit hoë koors, erge hoofpyn, stywe nek, braking, diarree of maagpyn, pynlike gewrigte, koue hande en voete, aanvalle of slaperige gedrag in at in ’n koma kan verander. ’n Rooi of pers uitslag wat nie verdwyn wanneer daarop gedruk word nie, kan ook een van die simptome wees, het die kampus se gesondheidsdienste uitgebrei.

Breinvliesontsteking is endemies aan die Wes-Kaap, waar dit meer algemeen gedurende die wintermaande voorkom. Die meeste gevalle ontstaan sonder ’n duidelik identifiseerbare bron van kontak, verduidelik die gesondheidsdiens verder.

Aangesien hierdie stam van breinvliesontsteking in omgewings met noue kontak kan versprei en as ernstig beskou word, werk die universiteit se kampusgesondheidsdiens nou saam met die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement om te verseker dat alle relevante prosedures en voorkomende maatreëls nagekom word.

“Dit is belangrik dat ons nie net die familie en vriende van Scheffers die nodige ruimte en tyd gee om die verlies te verwerk nie, maar ook dat die nodige prosedures afgehandel kan word,” het prof. Richard Stevens, waarnemende viserektor van Leer en Onderrig gesê. Volgens prof. Stevens is hulle dankbaar teenoor die spoedige reaksie van ER24 en ander rolspelers soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens se samewerking tydens hierdie moeilike tyd.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article