PAARL – ’n Brand op die Paarlberg wat gister (8 Maart) kort voor middagete aangemeld is, is suksesvol geblus nadat die Drakenstein-munisipaliteit en die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), met die ondersteuning van drie helikopters, saamgewerk het om die vlamme te bestry.
Die brand het uitgebreek te midde van ’n bloedige hittegolf waar temperature die week in die Kaapse Wynlande en die Breedevallei tot sowat 40°C kan styg.
Volgens ’n verklaring wat gisteraand deur die KWDM uitgereik is, het brandbestrydingspanne op die toneel agtergebly om die gebied te monitor en opruimingswerk te doen om enige moontlike opvlamming te voorkom.
Darren Herbst, stigter van Paarl Trails, ‘n organisasie wat aktief betrokke is in die opknapping en instandhouding van fietsry- en staproetes op Paarlberg, het gesê dat hy ongeveer 11:15 ‘n kennigsgewing oor die brand van een van sy lede ontvang het waarna die nooddienste onmiddelik in kennis gestel is.
Volgens hom het die brand agter die Victoriadam ontstaan en was drie helikopters ontplooi wat onder andere water in dié dam asook in die Bergrivier gaan haal het

Herbst het verduidelik dat die brand binne minute onder bedwang gebring is en het geen gevaar vir infrastruktuur ingehou nie.
Volgens hom was hierdie brand een van minstens vyf brande wat sedert Desember 2025 op die Paarlberg gewoed het.
Herbst het gesê hy kan nie oor die ontstaan van die brand spekuleer nie, maar het daarop gewys dat hierdie brand, sowel as die ander vier op ongewone plekke ontstaan het, ondermeer in die middel van ’n veld waar daar gewoonlik geen fietsryers of stappers is nie.
LEES: Wegholveldbrand verwoes historiese rietdakhuis in die Paarl
Hy het ook bygevoeg dat verdagte persone gereeld op die berg gewaar word.
Volgens Herbst, wie se organisasie nou saam met die DM werk, het Paarl Trails verskeie spanne op die berg wat onder meer die roetes herstel en onderhou. Hierdie teenwoordigheid dra ook indirek by tot die beveiliging van die berg, aangesien verdagte optrede aangemeld kan word.
Paarl Post het na die DM uitgereik, wie se kommentaar bygevoeg sal word sodra dit ontvang is.





