Die Bothaville stadsaal is ‘n erfenisterrein wat erg vervalle is. Foto: Verskaf

Die erg vervalle en geplunderde Bothaville-stadsaal raak inwoners diep, en daar heers ontevredenheid en afsku vir wat die stadsraad en regerende party toegelaat het.

Thinus Barnard, DA raadslid vir wyk 12 – waarbinne die stadsaal val – ondersoek die saak en sê dat hy volgende week ‘n kriminele klag gaan indien.

“Die stadsaal is ‘n Erfenisterrein,  maar alles verwoes,” sê hy.

Om sake te vererger, is dié munisipaliteit onder administrasie geplaas en is daar geen geld beskikbaar vir instandhouding of herstelwerk nie.

Munisipaliteite in Suid-Afrika word wetlik verplig om nasionale erfenisterreine binne hul jurisdiksie te beskerm. Die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (WNHRA), spesifiek artikel 31(7), vereis dat munisipaliteite die beskerming van erfenisgebiede in hul beplanningskemas of verordeninge insluit. Hierdie verantwoordelikheid sluit in die identifisering, bestuur en bewaring van erfenishulpbronne, en die integrasie daarvan in plaaslike beplanning.

Die WNHRA wys munisipaliteite aan as belangrike spelers in erfenisbestuur. Daar word van hulle verwag om by te dra tot die beskerming en bestuur van erfenishulpbronne binne hul gebiede.

Die dorp is in 1891 gestig en het in 1893 sy naam gekry. Dit was oorspronklik ‘n kerkdorp en het beskik oor ‘n kerk met ‘n monument gewy aan gevalle soldate, wat in 1938 ingewy is. Die dorp self was ook die terrein van die Slag van Doornkraal, wat deur die Doornkraal-monument herdenk word.

Enige struktuur ouer as 60 jaar word beskerm deur die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne. Erfeniseiendomme word bestuur en gegradeer deur Erfenis Wes-Kaap (WWK), plaaslike owerhede wat die toepaslike bevoegdhede het, en die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAHRA). Dus is die Bothaville-stadssaalkompleks ‘n erkende erfenisstruktuur.

Die gebou is in die middel van die dorp geleë en is in 1950 ontwerp in ’n toonbeeld van styl, statigheid en samehorigheid.

Vir dekades het deftige troues, glansryke geleenthede, revues, boeremarkte, skole se prysuitdelings en musiekfeeste hier plaasgevind.

In 2013 sou dit in ‘n administratiewe sentrum van die beplande private landboukollege in Bothaville omskep word.

Die destydse voorsitter van die Mieliehoofstad-sakekamer, Hettienne von Abo-Moolman, het gesê dat die premier Ace Magashule sy steun aan die kollege-plan gegee het en dat hy sou help dat die stadsaal van die Nala-munisipaliteit aan die kollege oorgedra word. Hiervan het niks gekom nie.

Volgens Barnard is die gebou toe dit geopen was toegerus om 500 gaste te akkomodeer.

“Daar was ‘n volledige kombuis, tafels en stoele; maar nou is niks meer oor nie. Die geboue is vervalle. Alles val uitmekaar. Daar is niks meer van die plafonne oor nie, dit is geplunder en besteel,” sê hy.

Ander erfenisterreine in Bothaville sluit in die ou polisiestasie en tronkselle in Presidentstraat; die Doornkraal Slagveld, Klipkraal, distrik Bothaville en die ou Nederduitse Gereformeerde kerk en die Ou Nederduitse Gereformeerde Kerk Pastorie in Presidentstraat.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article