Rufaro Tagarira van die Sanlam Boland Dames breek weg van die Westelike Provinsie se verdediging. Foto: Ernest Kilowan
Rufaro Tagarira van die Sanlam Boland Dames in ‘n vorige wedstryd teen die Westelike Provinsie. Argieffoto: Ernest Kilowan

Boland Dames seëvier in titaniese stryd teen WP

Rufaro Tagarira van die Sanlam Boland Dames breek weg van die Westelike Provinsie se verdediging. Foto: Ernest Kilowan
Rufaro Tagarira van die Sanlam Boland Dames in ‘n vorige wedstryd teen die Westelike Provinsie. Argieffoto: Ernest Kilowan

WELLINGTON – In ’n wedstryd propvol spanning en fisieke aanslae het die Sanlam Boland Dames Saterdag (21 Maart) op Boland Stadion hul aanspraak op oorlewing in die Pick n Pay Vroue-superliga-1 lewendig gehou met ’n taai 21–15 oorwinning oor ’n gedugte WP-span.

Die tuisspan het eerste bloed getrek toe Felecia Jacobs oor die doellyn gebars het, met Zintle Nonkasana wat die ekstra twee punte bygevoeg het. WP het egter blitsig gereageer met ’n onverdoelde drie om die druk dadelik terug te plaas op die Bolanders.

Die besoekers het veral in die skrums oorheers en die Boland Dames herhaaldelik op die agtervoet gedwing, maar die tuisspan het met grit en vasberadenheid teruggeveg. Die eerste helfte was ’n titaniese stryd, met beide spanne wat geen duim wou afstaan nie, en Boland het hul skrale 7–5 voorsprong tot rustyd beskerm.

Met die oë van SA Vrouerugby se afrigtingspan – onder leiding van hoofafrigter Swys de Bruin en hulpafrigter Franzel September – stewig op die aksie, was daar ekstra motivering vir spelers om hul merk te maak. Rufaro Tagarira was ’n rots in die middelveld en het met meedoënlose verdediging haar teenstander aan bande gelê. WP het ná pouse eerste toegeslaan met ’n strafskop om die voortou met 7-8 oor te neem, maar Boland het onmiddellik teruggeblaas.

Mihlali Mgweba het oor die doellyn geduik, met plaasvervanger Chloe Adams wat koelkop verdoel het. Die momentum het begin swaai en Boland het weer toegeslaan ná sterk samewerking tussen voorspelers en agterlyn toe Arthea King gaan druk het, met Adams wat weer suksesvol was van die skoppaal af om die voorsprong tot 21–8 te rek.

Daarna het die Boland Dames soos tiere verdedig – ’n muur van vasberadenheid wat die WP-aanval vir lank gefnuik het. Die besoekers het egter met nege minute oor teruggeslaan met ’n verdoelde drie om die telling tot 21–15 te verklein en ’n senuweeagtige einde te verseker.

’n Gemiste strafdoel deur Adams kort daarna het die spanning verhoog, maar Boland het vasgebyt en die oorwinning oor die streep gesleep. Die fokus skuif nou na volgende week se taai kragmeting teen die Sharks in Durban.

Sanlam Boland Dames 21 (7) – Drieë: Mihlali Mgweba, Felicia Jacobs, Arthea King. Doelskoppe: Zintle Nonkosana, Chloe Adams (2).

DHL Westelike Provinsie 15 (5) – Drieë: Zandiswa Xozwa, Donelle Snyders. Doelskop: Elme Kruger. Strafdoel: Kruger.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article