Landbouers soek nou dringende, deursigtige en bekwame administratiewe optrede om die impak van bek-en-klouseer te stuit.
Dit is veral op die platteland waar die impak van die siekte die ekonomie nou ernstig knou.
Dr. Wynand Boshoff, parlementslid van die VF Plus en hoofwoordvoerder oor landbou, sê terwyl die minister van landbou John Steenhuisen die staat se alleenreg om entmiddels teen die siekte te bestuur in die hof verdedig, kring die krisis net verder uit.
“Die meeste plattelandse dorpe word hoofsaaklik deur landbou gedra. Die ekonomie bestaan uit insetverskaffers, ondernemings wat lanbouprodukte ontvang en verwerk, finansiële- en persoonlike dienste, asook handel. Die oorsprong daarvan is egter steeds die landbou,” sê Boshoff.
“Die meeste boerderye, groot of klein, is gemeng. Dit wil sê gewasse word verbou, terwyl vee op ‘n mengsel van natuurlike veld, aangeplante weiding, oesreste en aangekoopte voer markgereed gemaak word. Die kontantvloeibeplanning van ‘n boerdery is ‘n ingewikkelde oefening, waarvan die vrye bemarking van vee op bepaalde tye ‘n noodsaaklike element is.
“Wanneer boere nie vee kan verhandel nie, is dit nie-noodsaaklike uitgawes wat eerste besnoei word. Dit mag die boer se kontantvloei steun, maar almal van die kerk en die haarkapper, tot insetverskaffers en nie-noodsaaklike arbeid, se kontantvloei droog op.”
LEES OOK: Landbou in ‘n wurggreep oor bek-en-klouseer
Boshoff sê elke week wat die krisis voorduur, raak die blywende skade groter.
“Die staat behoort oor die finansiële hulpbronne te beskik om vir die koste van verkryging, verspreiding en toediening van entstowwe in te staan. Dit beskik egter duidelik nie oor die nodige mense- en logistieke vermoë nie. Daarom moet die hulp vanuit die bedryf eerder verwelkom as bestry word.”
Boshoff sê die VF Plus het ‘n beroep op banke gedoen om verliese as gevolg van die ramp nie as blote bedryfsverliese te benader nie, maar as deel van ‘n natuurramp. “Toegeeflike kredietbestuur kan op die lange duur die hele plaaslike ekonomie red.”
Wanneer boere nie vee kan verhandel nie, is dit nie-noodsaaklike uitgawes wat eerste besnoei word. Dit mag die boer se kontantvloei steun, maar almal van die kerk en die haarkapper, tot insetverskaffers en nie-noodsaaklike arbeid, se kontantvloei droog op.
Intussen sê Vrystaat Landbou (VL) dat die voortdurende mislukking om uitbreking te beperk en tydige toegang tot entstowwe te verseker, nou direk die land se geloofwaardigheid as ‘n handelsvennoot ondermyn en duisende boerderybesighede in gevaar stel.
Met verwysing na ‘n onlangse verslag deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), sê Friedl von Maltitz, vise-president van VL en ‘n beesboer, dat Suid-Afrika sy BKS-vrye status in 2019 verloor het en dat die situasie sedertdien drasties versleg het.
Volgens die verslag het aangemelde BKS-gevalle in 2025 alleen tot meer as 24 000 gestyg – die hoogste aantal op rekord – met uitbrekings wat na agt van die land se nege provinsies versprei het. Gevolglik is die veesektor in ‘n hoë-las siektescenario gestoot.
Von Maltitz waarsku dat die ekonomiese gevolge van bek-en-klouseer diepgaande is. Volgens beramings kan voortgesette bek-en-klouseer-uitbrekings tot R25,6 miljard in verlore bruto produksiewaarde (BPV) oor die volgende dekade lei indien beslissende intervensies nie geïmplementeer word nie. Onder ‘n hoë-las scenario word verliese van R11,3 miljard in BPV tussen 2025 en 2030 reeds geprojekteer, met uitsluiting van verdere stroomaf-impakte op werk en landelike ekonomieë.
Handel is veral hard getref. Herhalende bek-en-klouseer-uitbrekings het gelei tot die sluiting of beperking van belangrike uitvoermarkte, wat jare se vordering wat deur die rooivleisbedryf gemaak is, ondermyn het. Tussen 2019 en 2025 het Suid-Afrika meer as R821 miljoen in beesvleis-uitvoerinkomste verloor, met verliese wat na verwagting teen die einde van 2026 tot R2,6 miljard sal styg indien die huidige trajek voortduur. In net een jaar het beesvleis-uitvoervolumes met meer as 13 000 ton gedaal, wat lei tot ‘n afname van R371 miljoen in uitvoerwaarde tussen 2024 en 2025.
VL en ander landbourolspelers het besluit om nou regstappe te neem.
“Hierdie stap is nie ligtelik geneem nie. Dit volg op jare se betrokkenheid, waarskuwings en versoeke vir dringende ingryping – insluitend toegang van die privaatsektor tot effektiewe entstowwe, ‘n deursigtige siektebeheerstrategie en beslissende leierskap om beide boere en die nasionale ekonomie te beskerm,” sê Francois Wilken, president van VL.
Die regsaksie, wat saam met Sakeliga en Saai, probeer om betekenisvolle en beslissende optrede af te dwing om die verspreiding van bek-en-klouseer te stop, Suid-Afrika se handelsbetrekkinge te beskerm en verdere ekonomiese vernietiging te voorkom. “Sonder onmiddellike korrektiewe maatreëls loop die land die risiko van langtermyn skade aan sy veebedrywe, uitvoerreputasie en voedselproduksiekapasiteit.”





