BLOEMFONTEIN – ‘n Ma (34) van Bayswater is Vrydag 30 Januarie effektief tot 10 jaar tronkstraf gevonnis nadat sy skuldig gepleit het op aaranding en nalatigheid van minderjarige kinders.
Die saak is in die Bloemfonteinse streekhof aangehoor waar sy skuldig gepleit het op al die aanklagte teen haar.
Die hof het gehoor dat die vrou in September 2024 kwaad geword het nadat sy ontdek het dat haar dogter (9) haar bed natgemaak het, terwyl sy geslaap het. Sy het die meisie beveel om te bad en het haar kop toe telkemale onder die water gedruk en haar met ‘n gordel geslaan.
In dieselfde maand het dié ma haar sesjarige dogter aangerand. Die voorval het gevolg nadat die ma gehoor het dat die kind laat by die skool aangekom het en daar met ‘n vreemdeling gepraat het.
Sy het die kind daaroor aanhoudend met haar oop hande geslaan.
Bykomend daartoe het die ma skuldig gepleit op kinderverwaardelosing en dat sy nie gesorg het dat haar kinders versorg word nie.
Lees ook: Ma en 3 ander rand glo tweejarige ernstig aan, trek borgtogaansoek terug | BloemNuus
Sy is gevonnis tot drie jaar tronkstraf vir aanranding, drie jaar vir kinderverwaarlosing en tien jaar vir aanranding met die opset om te beseer.
Die hof het gelas dat die vonnisse gelyklopend uitgedien word en die ma sal daarom net 10 jaar tronkstraf uitdien.
Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die vonnis word verwelkom. “Die NVG is toegewy daartoe om kwesbare lede van die gemeenskap, veral kinders, te beskerm.”
Kaydene Davids van Netwerk24 berig dat die vrou se saak van haar medebeskuldigdes, haar kêrel en huismaats, Adriaan Serviven en Wendy Nel, geskei is toe sy aangedui het dat sy skuld wil beken.
Davids skryf dat die ma in haar pleitverduideliking erken het dat sy haar kinders, nou 3 jaar, 6 jaar, 7 jaar en 11 jaar oud, opsetlik misbruik en doelbewus in 2024 verwaarloos het deur hulle nie die nodige sorg en genoeg kos te gee nie.
Die ma het in haar pleitverduideliking erken dat sy in September 2024 met dwelmmisbruik geworstel het.
Ronell Botha was die aanklaer in die saak.





