Schalk en Marinique Wentzel by hul tweede troue
Schalk en Marinique Wentzel by hul tweede troue. FOTO: Lientjie Mentz

BLOEMFONTEIN – Hoe deel ‘n mens ‘n sprokie met ‘n groot groep kinders wat van die begin af so deel was van ‘n paartjie se liefdesverhaal? Jy kyk toe hoe die gemeenskap ‘n handjie bysit en seker maak dat die liefde seëvier – ook vir die kinders.

Vir die afgelope agt jaar is Marinique du Plessis die maatskaplike werker by die Engo-huise Esperanza, Gardenia, Gladstone en Carpe Diem in die stad. Sy het haarself altyd tong-in-die-kies voorgestel as die mamma van 48 kinders.

Kinders gooi hande vol blou blare-konfettie op die troupaartjie. FOTO: Michael Hetzel
Kinders gooi hande vol blou blare-konfettie op die troupaartjie. FOTO: Michael Hetzel

Sy het ook die afgelope paar jaar ‘n spesiale konsert gereel waaraan al die kinders van dié jeugsorgsentrums deelgeneem het. Dit is met die hulp van dié kinders dat Marinique se kêrel, Schalk Wentzel, aan die einde van die Meesterstuk-konsert op 17 Mei vir Marinique heeltemal verras het deur op die verhoog te klim en haar daar voor konsertgangers en die kinders gevra het om met hom te trou.

Lees die begin van die sprokie: Kinders van jeugsorsentrums juig oor verlowing op verhoog.

Die kinders was so meegevoer, hulle het daarop aangedring om hul “eie” troue te hê.

Die meisies hardloop om vir juffrou Marinique ‘n drukkie te gaan gee op haar tweede “troudag”. FOTO: Tania Allen

Marinique en Schalk is op 7 Februarie tydens ‘n pragtige seremonie by Cathedral Peak in die Drakensberg voor familie, vriende en kollegas getroud.

Drie weke later het die paartjie ‘n tweede keer getrou – ‘n volledige troue met almal uitgevat in hul trouklere, ‘n preek met huweliksformuler en natuurlik: die soen.

Die tweede troue, is op Saterdag 28 Februarie by Leopards & Lace aangebied.

“Die hele opbou na ons troue, was ‘n journey,” vertel Marinique. “Die kinders het so uitgesien na hul nuwe klere en die troue. Baie van hulle was nog nooit by ‘n troue nie. Hulle het so baie vrae gehad en ons het besluit om die program so aan te pas sodat alles tydens die diens en onthaal op ‘n mooi en praktiese manier aan hulle te verduidelik hoe ‘n huwelik gevier word,” vertel sy.

Die versorgers by die onderskeie Engo-huise is van links Heleen Van Niekerk, Janine du Plessis, Marietjie du Plessis, Elzabe Nagel, die egpaar Marinique en Schalk Wentzel, en Annatjie de Jager. FOTO: Tania Allen

“Vir baie van hierdie kinders is dit die eerste keer in hul lewe dat hulle ’n troue beleef. Die eerste keer dat hulle ’n bruid in wit sien instap. Die eerste keer dat hulle hoor hoe twee mense voor almal sê: ‘Ek kies jou.’”

Al die meisies was blommemeisies met sagte blommekransies op die kop en die seuns was strooijonkers wat elk met ‘n pak sneesdoekies die kerk ingeloop het en vir die vroue sneesdoekies uitgedeel het.

Ds. Jan Venter wat die seremonie waargeneem het, het vir die kinders die huweliksformulier verduidelik en veral klem gelê oor hoe God deel van die huwelik vorm.

“Liefde is werklik. Sprokies bestaan. En ek is deel daarvan, was die boodskap,” sê Marinique.

Meer nog as die egpaar Wentzel wat hul troue weer gehou het om vir kinders te wys wat liefde is, is die lang lys mense wat spesiaal met hul talente en ondernemings die dag onvergeetlik gemaak het. Dit sluit alles in van Leaopards & Lace waar die troue gehou is tot die trourok, klank, blomme, grimering, hare en fotograwe. ‘n Gemeenskap wat gehelp het om vir 48 kinders ‘n onvergeetlike dag te bied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article