Dit gaan goed met Janique Venter (8) waar sy in die Bloemfontein Mediclinic se intensiewesorgeenheid herstel nadat ‘n gewas uit haar nek verwyder is.
Die operasie waarin ‘n gewas van 8cm uit Janique se nek gesny is, is deur dr. Johan Grobbelaar, hoof van die departement oor-neus-en-keel aan die Tygerberg-hospitaal, in Bloemfontein uitgevoer.
Janique se pa, Jacques Venter, sê die dokters kon sowat 98.5% van die gewas wat in haar nek regs onder haar regteroor gegroei het en na haar brein en linkeroor versprei het, verwyder. “Verder het hulle die aartjies wat na die brein lei gebrand en ons glo dit sal daardie deel van die gewas doodsmoor.”

Janique is op ses maande met neuroblastoom gediagnoseer − ‘n kwaadaardige gewas het aan die regterkant van haar nek gegroei.
Dit was die begin van ‘n lang stryd. Drie jaar gelede het dokters bevestig dat die gewas na ‘n nie-kwaadaardige ganglioneuroom verander het, maar dit het druk op haar lugpyp veroorsaak.
Met die ondersteuning van Dewald en Yolandi Fourie se The Pace Foundation, wat gehelp het om geld in te samel, is Janique en haar ouers aan die begin van 2025 na Memphis, Tennessee, waar die gewas uit haar nek gesny is.
Lees berig hier: https://novanews.co.za/bloemnuus/moedige-vegter-het-n-sterk-wil-20250205-2/

Ná hul terugkeer uit Amerika, is daar verlede jaar vasgestel dat die gewas weer begin groei het en verder versprei.
Grobbelaar het einde verlede jaar na Bloemfontein gekom vir ‘n konsultasie met Janique waarna hy die besonderhede van die operasie met Janique se ouers bespreek het.
Lees meer hier: https://novanews.co.za/bloemnuus/vegtertjie-7-bly-opnuut-moedig-nadat-gewas-terugkeer/
Die operasie is Dinsdag 6 Januarie van 08:15 tot 12:15 uitgevoer en Janique herstel nou.
“Alles het goed gegaan met die operasie,” sê Jacques. “Ons glo dat Janique vinnig sal herstel ten volle sal genees.”






You must be logged in to post a comment.