Inwoners in Quaggafontein het Saterdag 12 Julie hul kampstoele op die verkeersaansluiting van Brendar- en Vinkelstraat opgeslaan uit pure radeloosheid weens water wat nou al sedert April hier afstoom en die pad onrybaar maak.
Tania Nagel en haar gesin was onder die inwoners wat hul kampstoele daar staangemaak het en bote en visstokke saamgebring het.
“Die water vloei in strome in Vinkelstraat af – vanuit Brendar dwarsdeur tot in Pimentstraat.
Dit is duisende liters wat verlore gaan en dit verwoes ons paaie,” sê sy.

Sowat 11 inwoners woon in Vinkelstraat en moet nou al die afgelope vier maande deur modderpoele ry.
“Sommige kleiner motors word beskadig op hierdie paaie,” sê Nagel.
“Dele van Brendarstraat se teer verbrokkel hier by die kruising met Vinkel waar die water oral uitstroom.”
Een van die inwoners se Nissan Navara se skokbreker het afgebreek weens Vinkelstraat se ruwe oppervlak weens die verspoeling.

Nagel sê die woonbuurtvereniging het die waterlekke in Quaggafontein al dikwels aangemeld. “Sommige is reggemaak, maar van hulle het van voor af begin stroom.”
Alles is deeglik gedokumenteer.
‘n Waterlek in Pimentstraat is op 4 Junie aangemeld en die metro het mense uitgestuur om dit op 17 Junie net voor 16:00 reg te maak.
Die eienaar sê egter water het die volgende oggend weer by dié lekplek uitgestroom en met BloemNuus se besoek aan die hoewegebied, het water op Maandag 14 Julie steeds daar gelê.
‘n Lekplek wat vroeër aan die oorkant van die een in Vinkelstraat in Brendar gelek het, is reggemaak, maar nou dam water laer op in die straat op.
Greg van Noord, die DA-wyksraadslid van die wyk waarin Quaggafontein val, sê hy is bewus van die lekplekke hier en in talle ander dele in die stad.
Hy sê net in Brendarstraat alleen is daar drie ernstige lekplekke.
In die lekplek naby die aansluiting by die N8, veroorsaak die lekplek daar erge skade aan die padoppervlakte.
Boonop is daar talle voertuie en veral swaar vragmotors wat op hierdie stuk van die teerpad ry en die slaggate verder uitry.
“Varswaterlekplekke in die stad is ‘n groot probleem,” sê hy.
“Die metro se spanne kom nie by almal uit nie. Die situasie word vererger omdat dit nou winter is en die koue lei tot meer barste in waterpype.”






You must be logged in to post a comment.