'n Tydelike huis opgerig op die grondgebied naby Lourierpark.
Talle tydelike strukture staan op die grondgebied tussen Louerierpark en Bloemdal.

Die Vrystaatse Hooggeregshof het Maandag 6 Februarie ‘n tussentydse bevel gegee ná die DA se aansoek oor die werk wat die Mangaung-metro op die grondgebied naby Lourierpark wil begin.

Die hof beveel daarmee dat die metro die voorbereideng van werk op die grondgebied met die oog op uitbreiding van die grondgebied wat deel vorm van die Brandkop-plaas en die grondgebied in die omgewing van Lourierpark moet staak.

BloemNuus het gister berig dat die DA die hof genader het om in te gryp in die voorbereiding van grond vir ontwikkeling rondom Lourierpark.

Die werk wat die Mangaung-metro die afgelope tyd op die uitbreiding langs Lourierpark gedoen het, is nou gestaak nadat ‘n hofbevel beslis het die werk moet eers gestaak word. FOTO’s: Lientjie Mentz

Werknemers is die afgelope tyd waargeneem waar hulle paaie skraap en voorbereidings tref om dienste te installeer in die grondgebied tussen Lourierpark, Bloemdal en Ferreira.

Die Geluksdal Plaasvereniging by name Lourens Schlebush het ook Maandag ‘n brief aan die stadsbestuurder Sello More gestuur waarop gevra word dat die Mangaung-metro sy planne bekend maak.

Lees ook: Ingryping gevra om ontwikkeling by Lourierpark te keer.

Henry Denner, Braam Vorster (albei VF Plus-raadslede) en Armand Cloete (VF-wetgewerlid) het die perseel verlede week besoek.

Denner sê die metro het glo goedgekeurde planne vir die ontwikkeling van ‘n woonbuurt ontdek wat uit die jare 1990 kom en deur die destyds stadsraad goedgekeur is.

“Dit is veronderstel om laekostebehuisting te wees wat ten volle ontwikkel word.”

Denner sê die kontrakteurs het bevestig dat hulle werk aan waterpunte en die aanlê van puttoilette werk en ook paaie skraap soos op die planne aangedui. Hy sê hulle het ook glo druk van die Menseregtekommissie om water en toilette aan te lê. Dit is vir die mense wat sedert 2024 onwettig op dié grondgebied strukture opgerig het en nou daar woon.

Die hof het nou beveel dat die metro alle verdere voorbereiding staak insluitend die skraap en gelykmaak van die terrein, die afmerk van erwe, die installasie van munisipale dienste (ongeag tydelik of permanent) en die instellasie van ablusiegeriewe of ander strukture vir mense hangende finale uitspraak.

Intussen het die uitvoerende burgemeester Gregory Nthatisi Maandag tydens ‘n nuuskonferensie teruggekap dat ander partye soos die DA inmeng met die metro se planne om vir behoeftiges ‘n plek te gee om te bly. Volgens hom is daar 79 000 mense in die metro wat blyplek soek waarvan sowat
35 000 net in Bloemfontein.

“Ons moet omsien na hierdie inwoners. Inwoners wat in M-seksie in Botshabelo woon, moet drie tot vier busse neem om by die werk te kom. Ons wil hulle nader aan hul werkplekke bring. Ons vra gemeenskappe om net geduldig te wees. Ons wil teen Junie vanjaar vir hulle bewoonbare plekke kry om te bly,” het hy aan die media gesê.

In sy brief sê die Geluksdam-vereniging die metro se aanmoediging van informele en onwettige ontikkeling dra by tot ernstige waardeverlies vir aangrensende formele ontwikkelde gebiede, plase en hoewes. “Dit sluit verminderde eiendomswaardes, verminderde beleggingsvertroue en die toename in sekuriteit en infrastruktuur-uitdagings.

Die hofuitspraak is uitgestel tot 5 Maart.

Lees ook vorige berigte: Woede oor grondbesetters by Lourierpark en Grypers stroom in.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article