Kranse is Saterdag gelê op die plek waar drie kinders ‘n jaar gelede dood is.

BLOEMFONTEIN – ‘n Jaar ná die ongeluk wat die lewe van twee boeties en hul niggie by die N8-kruising buite Bloemfontein geeïs het, het vriende en familie kranse langs die pad gelê.

Die twee Smit-boeties Ryan (6) en Ayden (8) en hul niggie Leané Papendorp (8) is op 24 Januarie 2025 by die verkeerslig op die N8 by die Aljo’s Superspan dood toe die motor waarin Leané se ma, Adri Jonck die kinders skool toe geneem het in ‘n ongeluk met ‘n Hilux-bakkie betrokke was.

Tennique Joubert in 'n wit rokkie by die drie kruise by die N8-kruising waar die ongeluk op 24 Januarie 2025 plaasgevind het. FOTO's Lientjie Mentz
Tennique Joubert in ‘n wit rokkie by die drie kruise by die N8-kruising waar die ongeluk op 24 Januarie 2025 plaasgevind het. FOTO’s Lientjie Mentz

Leané se ma, Adri Jonck, en nog ‘n maatjie Tennique Joubert wat saam met hulle in die voertuig was waarmee Adri die kinders skool toe geneem het, het die ongeluk oorleef. Hulle was albei Saterdag saam met familie by die kranslegging.

Intussen is drie kruise op die plek opgerig met foto’s van Ryan, Ayden en Leané op.

'n Hartseer ouma Tinkie Jonck by die kruise tydens die kranslegging Saterdag 24 Januarie.
‘n Hartseer ouma Tinkie Jonck by die kruise tydens die kranslegging Saterdag 24 Januarie.

Die bestuurder van die bakkie Tristan Kearney (20) het op Woensdag 21 Januarie in die Bloemfonteinse streekhof verskyn.

Op Saterdag 24 Januarie het familielede kranse en blomme by die drie kruise op die kruising by Aljo’s gelê. Ballonne is ook daarna losgelaat.

Tinkie Jonck, die drie kinders se ouma, het op die geleentheid die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning. Sy het gepraat oor hoe rou en seer hulle nog almal is. “Hulle (die kinders) is op hierdie dag ‘n jaar terug van ons af weggevat. Dis is hartseer. Doelloos, nutteloos. Dit moes nie wees nie. Ek glo ons sal eendag antwoorde kry. Ek leef om by hulle te wees. Ek glo hulle is gelukkig en hulle wil nie met ons plekke ruil nie. Ek glo hulle leef elke dag hier om ons.”

Sy sê sy en die familie het elke dag pyn. “Daar is nie ‘n dag wat verbygaan waarop ons nie seer het nie. Van die ongeluk af het ons nog elke dag dieselfde pyn gehad.”

Ryan en Ayden se ouers Yolandé en Martin Smit.
Ryan en Ayden se ouers Yolandé en Martin Smit.

In ‘n aandoenlike oomblik het Tennique drie balonne met die letters waarmee haar drie maatjies se name begin, in die lug vrygelaat. Die drie balonne het oor die verkeerslig die Vrystaatse blou somerhemel ingesweef oor die plek waar hulle ‘n jaar gelede gesterf het.

Die en vriende by die kranslegging Saterdag 24 Januarie, 'n jaar na die ongeluk waarin die drie kinders dood is.
Die en vriende by die kranslegging Saterdag 24 Januarie, ‘n jaar na die ongeluk waarin die drie kinders dood is.

Kearny sal weer op 24 Maart in die hof verskyn op drie aanklagte van strafbare manslag, een van roekelose en nalatige bestuur, die verontagsaming van ‘n padverkeersteken, asook die oortreding van regulasies wat betrekking het op die aantal mense wat hy met dié voertuig kon vervoer.

Daar word verwag dat hy dan op die aanklagte sal pleit.

Familie en vriende by die kranslegging Saterdag 24 Januarie, ‘n jaar na die ongeluk waarin drie kinders dood is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article