BLOEMFONTEIN – ‘n Yorkhsire Terrier wat vier dae lank in die veld oorleef het, is Donderdag ná ‘n reuse-soektog uiteindelik gevind.
“Ons harte is weer heel,” sê Tanja Ackerman van Langenhovenpark oor haar dogter, Zané (11), se Yorkie Minkie (3) wat Sondag in die veld naby Stuck in the Mud verdwyn het.

“Ons het Sondag met Minkie en Lucy deur Langenhovenpark se strate gaan gestap. Toe ons wou omdraai om huis toe te gaan daar waar die veld begin, het Minkie uit haar harnassie geruk en die veld in gehardloop,” vertel Tanja. “Ons is agterna en het haar geroep, maar sy het in die lang gras verdwyn.”
Tanja en Zané het vir Lucy (hul ander Yorkie) huis toe gevat en Tanja se man, Andries, het die bakkie gevat en na Minkie gaan soek. “Daarna is ons terug en het die aand tot 23:30 in die donker na haar gesoek en Minkie se naam geroep.”
Andries, wat Maandag Kaap toe gevlieg het vir werk, het die oggend 05:00 nog ‘n slag met die bakkie gaan soek na daar waar hulle Minkie die laaste keer in die veld gesien het. Hy het haar kombersie daar naby Stuck in the Mud neergesit en gehoop sy kom daarheen.
Zané wou nie skool toe gaan nie en sy en Tanja het weer gaan soek. Hulle het op en af gestap en Minkie se naam geroep.

Intussen het hulle ‘n groep op WhatsApp gestig en mense het kom help soek. “Wildvreemde mense het met hul kinders en honde kom help soek na Minkie. Ons het die hele gebied deursoek van Boomrits Adventures en Stuck in the Mud tot by Innibos. Met die soektog Maandag het mense haar gesien, maar sy het weer weggehardloop. Ten minste het ons geweet sy leef nog.”
Hulle het Maandag tot 23:30 gesoek en nadat Zané Dinsdag skool toe is, het Tanja gaan verder soek. “Gelukkig was daar baie water in die veld, maar ons het vir haar bakkies kos en kombersies uitgesit.”
Steeds het mense op die WhatsApp-groep laat weet wanneer hulle gaan kom help soek. “Dit was vir my so kosbaar dat die gemeenskap so bymekaarkom om na ‘n klein, bang hondjie te soek. Mense het selfs by die werk afgevat om met die soektog te help – vriende en vreemde mense,” vertel Tanja.
Inwoners wat van die soektog te hore gekom het, het hul pointer-hond Norma beskikbaar gestel om Woensdag te help om na Minkie te soek.

Tydens ‘n nagwedloop tussen Inibos en Boomrits Woensdag-aand, het ‘n kind op ‘n fiets vir Minkie gewaar. “Hy het vir sy ma van die Yorkie gesê. Hulle het aanvanklik gedink dis ‘n maatjie se hond, maar hulle sien toe dit is ‘n ander Yorkie. Hulle het die pin vir ons gestuur en ons het daarheen gegaan,” vertel Tanja.
Mense met drones het kom help en ons het in die omgewing gesoek, maar die gras is baie lank en ons kon haar steeds nie kry nie.
“Teen Donderdag was ek al baie moedeloos en het begin vrees dat ons haar nie gaan kry nie. Van die mense wat na Minkie gesoek het, het slange teëgekom. Maar Donderdag, toe sy opstaan, sê Zané vir my: ‘Mamma, moenie hartseer wees nie. Ons gaan vir Minkie kry’.”
Later die dag net toe Tanja regmaak om vir die soveelste keer na Minkie te gaan soek, bel ‘n vrou wat met haar fiets oefen vir ‘n wedren en stuur ‘n pin van waar sy pas die Yorkie in die veld naby die N8 by Itau gesien het. “Ek en Zané het in die bakkie geklim en vir Edelia daar gekry. Weer kon ons nie vir Minkie kry nie.
“Uit pure moedelooshuis het ek en Zané net daar in die veld gaan sit. Ek het vir Andries in die Kaap gebel en ek was moeg en kwaad,” vertel sy. “Net daarna sien ons ‘n beweging by die bakkie. Dit is toe Minkie wat teen die bakkie opstaan. Ek het op daardie oomblik geweet – hierdie is ons een kans om haar te kry. Ons het mooi met haar gepraat en ek kon haar uiteindelik optel. Sy was so bly om ons te sien,” vertel Tanja. Dae lank was sy bang en alleen in die veld, maar nou was sy weer veilig by haar mense.
“Ons het haar na ‘n veearts toe gevat om ondersoek te word, maar behalwe vir ‘n paar bosluise op haar en seer voetjies, was sy gesond.”
Tanja sê hulle is so dankbaar vir almal se gebede, saamsoek, moed inpraat en ondersteuning. “Mense het in die bosse ingegaan en na haar help soek.Ek is so dankbaar dat die gemeenskap soveel omgee dat hulle saamsoek na ‘n klein hondjie.”
Inwoners van Langenhovenpark en selfs Pellissier en ‘n oom van Kwaggafontein het help soek.
Nadat Andries Vrydag teruggekeer het, is die gesin nou weer bymekaar.
“Ons huis is nou weer heel en voltallig,” sê Tanja terwyl sy Minkie styf vasdruk.






You must be logged in to post a comment.