AfriForum se buurt- en vullisverwyderingspanne het ingespring toe kwaddoeners vullissakke oopgeskeur en vullis in strate in Langenhovenpark gestrooi het.
Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein, vertel nadat die Mangaung-metro se vullisverwyderingsdiens nie op 1 of 2 Julie die vullis in Langenhovenpark verwyder het nie, het die voorval op 3 Julie ’n groot gemors veroorsaak. Vullis het op die sypaadjies en in die paaie rondgestrooi gelê.
Hy sê die span het vinnig gereageer nadat ’n video van die vuil strate op ’n plaaslike WhatsApp-groep versprei is. Daar is besluit om inop te tree om te verhoed dat die woonbuurt soos ’n vullishoop lyk.
“Hierdie voorval is ’n direkte gevolg van die Mangaung-metro se onvermoë om vullisverwydering op skedule te hou, wat daartoe lei dat strate en woonbuurte in ’n haglike toestand gelaat word.
“Ons doen ’n ernstige beroep op die stad se wetstoepassers om meer aktief betrokke te raak in die gemeenskappe en kwaaddoeners uit woonbuurte weg te wys. Hierdie tipe voorvalle ondermyn nie net die gemeenskap se moraal nie, maar dit skep ook ’n risiko vir die toename van misdaad in die omgewing,” sê Groenewald.
AfriForum het intussen ook op 3 Julie ’n formele brief aan die metro gerig en antwoorde geëis oor waarom algemene dienslewering in Bloemfontein só drasties agteruitgaan. Die gemeenskap verdien beter en AfriForum sal aanhou druk toepas totdat inwoners die dienslewering ontvang waarvoor hulle betaal.
Die organisasie doen ’n beroep op inwoners om nie hul vullissakke oornag langs die pad te laat staan nie – dit voorkom dat diere of kwaaddoeners die sakke oopskeur. Inwoners word ook versoek om enige verdagte optrede dadelik aan hul buurtwag of plaaslike veiligheidsdienste aan te meld.




