Wanneer die nuwe eiendomsbelasting van 1 Julie af in die Mangaung-metro gehef word, gaan eiendomseienaar se rekeninge dramaties styg.
Die proses om die waardasierol wat volgens wetgewing elke vier jaar hersien moet word, is nou aan die gang.
Inwoners moet nou na die nuwe waardasies op hul eiendomme kyk. Eienaars het tot 31 Maart om na die waardasiepryse die skakel op Mangaung se webwerf te kyk en skriftelik beswaar aan te teken sou hulle wil.
Frans Bothma, DA-raadslid sê daar is ‘n hele paar veranderinge wat met die nuwe waardasierol ingestel is. Die grootste hiervan is die instel van die heffing op eiendomsbelasting vir inwoners van hoewegebiede. Hoewegebiede wat as landbougrond beskou word, het vroeër 75% afslag ontvang.
Nou gaan eiendomme teen standaard-eiendomstariewe belas word terwyl die grond steeds afslag van 75% kry, ongeag of daar landbouaktiwiteite is, of nie.
Die Mangaung-metro se bestuurder van inkomste Kolisang Rapulungoane, sê die nuwe waardasieproses vir hoewegebiede val onder multidoel-eiendomme. Ondernemings in hoewegebiede sal net soos ander ondernemings vier keer meer belasting betaal.
Rapulungoane verduidelik ‘n onafhanklike waardeerder hanteer die waardasieproses en dit is geskoei op markwaardes. “Waar daar aanbouiings was of waar eiendome buite verhouding met ander soortgelyke eiendomme in die omgewing belas is, word dit nou met die nuwe waardasierol reggetrek.”
Talle inwoners wat reeds op die waardasierol gekyk het, het gesien dat hul eiendomme tussen
180 000 en 400 000 gestyg het. Volgens kommentaar op Facebook stel mense self massa-aksies voor teen die nuwe waardasierol.
DA-raadslid Tjaart van der Walt sê individue wat nie tevrede is met die nuwe waardasierol nie, moet nou skriftelik beswaar maak. Die waardeerder sal ná 31 Maart na al die besware wat ontvang is, kyk. Mense wat nie tevrede is met die terugvoer nie, kan teen ‘n fooi die redes kry.
Diegene wat steeds nie tevrede is nie, kan appèl aanteken. ‘n Valuasie-appèlraad kyk daarna en lewe uitspraak wat afdwingbaar is.
“Mense kan mag nie hul eiendomsbelasting weerhou terwyl hulle vir antwoord op ‘n beswaar wag nie,” sê Rapulungoane.
Van der Walt sê hoewel inwoners enige tyd beswaar teen die munisipale waardasieprys – wat die eiendomsbelasting op ‘n perseel bepaal – kan maak, is dit nou ‘n goeie tyd omdat dit lank kan vat as dit ná die sperdatum ingedien word.
Bothma sê mense ouer as 60 jaar kan aansoek doen vir vrystelling van die eerste R300 000 van die waarde van hul eiendom op erfbelasing.
Die nuwe waardasierol sal geld van 1 Julie tot 30 Junie 2030. Besoek die metro we webblad voor 31 Maart om jou eiendom se nuwe waardasie te sien en om die skakel vir ‘n beswaar te kry. Kliek hier vir die skakel.





